19 dae gelede
Groep kry ander gedaante
SONG OP PAD: Die groep Muhabbat stel eersdaags ’n nuwe single bekend. FOTO VERSKAF  ~ 

DIÉ old-school boy band met die goue stemme van Hanover Park stel eersdaags hul nuwe single bekend.

Muhabbat se vier lede het oorspronklik in 1996 bymekaargekom en die R&B- groep Shee Boom gestig.

Tougeed Holtman, Siraaj Daniels, Ashraf van Wit en Ganodien Davids het mekaar­ ná jare gevind en maak nou weer saam musiek.

Radiostasies

Tougeed vertel hulle het destyds sukses behaal en deur die land getoer.

Die groep het verskeie liedjies opgeneem wat deur kommersiële radiostasies gespeel is.

Hulle het toe besluit om hul loopbane te bevorder en deur Spanje te toer om mee af te sluit.

Daarna het elkeen besluit om ’n gesin te begin en normale 9-tot-5-werk te vind.

Jare later het die groep se lede hulle weer saam bevind nadat hulle gevra is om hul talente weer ’n keer vir ’n radio-advertensie in te span.

Daarna is hulle gevra om weer bymekaar te kom en ’n Nasheed-groep – een wat Islamitiese liedjies sing – onder leiding van Tasleem Kariem te vorm.

Dit is toe dat die groep Muhabbat gebore is.

Hulle is nou ’n geloofsgeïnspireerde a capella-groep met Kariem as hul vervaardiger en mentor.

Muhabbat reik eersdaags sy nuutste single, “Children Cry”, uit.

Terapeuties

Die song gaan oor kinders wat swaarkry en verlore raak in ons gemeenskappe met mense wat nie eintlik omgee wat met hulle gebeur nie omdat dit nie hul kinders is nie.

Tougeed sê die song is meer gerig op grootmense wat in ag moet neem wat om hulle aangaan.

Hy sê ook musiek is terapeuties­ en soms ’n goeie manier om ’n boodskap uit te stuur.

Die groep is besig om ’n musiekvideo vir die song in Hanover Park te skiet.

Die groep kan op sosiale media-platforms – Facebook, Instagram en YouTube­ – gevolg word vir hul nuutste musiek en video’s.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters