8 dae gelede
Goue oue terug
PRINSES: Nicoleen Saal is Aspoestertjie in Cinderella en FrikaDella.  ~ Jonathan Lestrade

“DIE verhaal van Cinderella laat ’n mens goed voel. Dit laat jou glimlag en dit laat jou dink aan ’n tyd toe jy ’n kind was.

Só gesels Alistair izobell oor die teaterstuk Cinderella en FrikaDella, wat van 23 November tot 20 Desember in die Roxy Revue Bar in GrandWest op die planke gaan wees.

Die teaterstuk gaan oor die sosiale media wat die wêreld oorneem en die ongenaakbare ma en talentbestuurder Patricia D en haar “influencer”-dogters, Frika en Della, wat maar bra min talent het.

Die talentvolle Cinderella word geïgnoreer en onderdruk – totdat ’n groot talentkompetisie opduik. Cinderella skryf stilletjies in vir dié kompetisie.

Izobell is die skrywer en regisseur van Cinderella en FrikaDella.

Die briljante Kaapse musikant sê hierdie teaterstuk is ’n interessante weergawe van die klassieke sprokiesverhaal. “Dit is Cinderella met ’n Kaapse twist waarmee Kapenaars hulle gaan kan vereenselwig. Ons humor is op die voorgrond van die teaterstuk.”

Izobell voeg by die rolverdeling vir die toneelstuk is uitgesoekte musikante en kunstenaars.

Nicoleen Saal, wenner van Maak My Famous 2, vertolk die rol van Cinderella.

Cheswyn Ruiters, die Maak My Famous-wenner van seisoen 1,vertolk die rol van die sjarmante prins.

Die gewilde Kaapse sanger Nur Abrahams en die Maak My Famous-deelnemer Daylin Sass speel die twee aaklige stief­susters.

Izobell en Loukmaan Adams deel die rol van die bose stiefma.

MOEILIKHEID: Alis­tair Izobell vertolk die rol van Cinderella se bose stiefma. Foto: Jonathan Lestrade

Daar gaan dus ’n aand of drie wees waar die gehoor vir Izobell in die rol van Patricia D sal sien, maar moenie worry nie, Loukmaan vertolk ook steeds die stiefma-rol.

Die flambojante Ramaine Barreiro-Lloyd speel die towerfee.

Die danser DFEATsa, wat self ’n Maak My Famous-finalis was, gaan ook in die teaterstuk verskyn.

Saal sê meer oor haar karakter: “Cinderella is baie whimsical en sag en die sonskyn van die huis.

Sing

“Hoewel haar stiefma en haar stiefsusters haar baie boelie, sien sy steeds die beter kant van die wêreld.

“Sy wil net sing en ’n lig vir die wêreld wees.”

Saal voeg by: “Mense in die gehoor gaan nie net daar sit en kyk nie; ons gaan met hulle interact en hulle deel maak van die show. Ons praat in die produksie ook oor die voor- en nadele van die sosiale media.”

Emo Adams se maatskappy, All Star Entertainment, bied die teaterstuk aan.

Die kaartjies kos R150 elk en dit kan bespreek word by computicket.com.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters