14 dae gelede
Gewilde sepie skenk groot op verjaardag
suidooster
GEE TERUG: Verteenwoordigers van die Rooi Kruis-kinderhospitraal-trust, Pauline Solomons, Mershtilda Chaparadza, Nazli Philander en Chantel Cooper (uitvoerende hoof) saam met Suidooster se Wilmer Müller (publisiteitsbestuurder) en die akteurs Dean Smith en Jawaahier Petersen. FOTO: Verskaf  ~ 

HÊPPIE, HÊPPIE, Suidooster!

Dié gewilde kykNET-sepie het gister op sy vyfde verjaardag ’n lekker groot skenking aan die Rooi Kruis-kinderhospitaal se trust gemaak.

Die waarde van dié skenking is sowat R1 miljoen. 

Dit bestaan uit ’n kontant-donasie van R50?000, die vervaardiging van ’n televisie-advertensie en R500 000 se advertensie-lugtyd op die kykNET-kanale. 

Dit sluit ook in blootstelling in episodes van dié gewilde sepie om bewusmaking van die trust se fondsinsamelingsprojekte te skep.

Die oorhandiging van hierdie ruimskootse skenking aan die trust het gister by Suidooster se ateljee plaasgevind.

Ambassadeurs

Die aktrise Jawaahier Petersen (Kaashifa in Suidooster) het die saadjie geplant dat Suidooster by die werksaamhede van die Rooi Kruis-kinderhospitaal se trust betrokke moet raak. 

Sy is reeds een van die trust se ambassadeurs en is self daar as kind behandel.

Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder, sê dit was nog altyd belangrik vir die sepie om ook aan die gemeenskap terug te gee.

“Ons mantra by Suidooster is dat ons nie net mense se lewens met kykgenot wil verryk nie, maar ook op ander maniere, soos deur ons harte oop te maak. 

“Daarom het ons ook besluit om hande met die kinderhospitaaltrust te vat,” sê hy.

Chantel Cooper, wat die uitvoerende hoof van die trust is, sê dit is ’n voorreg om in vennootskap te wees met donateurs soos Suidooster en kykNET wat soveel omgee.

Opgradering

“Die kinderhospitaal-trust is opreg dankbaar dat ons omring is deur barmhartigheid en vrygewigheid, wat ons help om die lewens van kinders beter te maak,” laat Cooper hoor.

Danksy Suidooster en kyk­NET se skenking is die hospitaal nou nog ’n tree nader aan die opgradering en uitbreiding van sy noodgevalle-eenheid.

Dié projek het in April 2019 afgeskop. 

Die eerste fase van hierdie opgradering­ is in Oktober voltooi is.

Die spertyd vir die afhandeling van die tweede fase is vir Februarie 2022 geoormerk. 

Die koste vir die projek beloop sowat R122 miljoen, waarvan daar tot dusver R87 miljoen ingesamel is. 

Om ’n skenking te maak of vir meer inligting oor die trust, besoek childrenshospitaltrust.org.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters