11 dae gelede
Geliefde Fiela nou stil
RUS SAG: Die ikoniese aktrise en verhoogkunstenaar Shaleen Surtie-Richards is oorlede.  ~ Foto Verskaf

DIE sprankelende Shaleen Surtie-Richards (66), oftewel “Nenna”, soos sy in die volksmond gedoop is, is nie meer met ons nie.

Die land is in rou nadat die nuus gisteroggend gebreek het dat die ikoniese aktrise met die flambojante persoonlikheid gesterf het.

Shaleen is dood gevind in ’n gastehuis in Kaapstad waar sy gebly het tydens die verfilming van die TV-reeks Arendsvlei.

Die publicist Gavin Wildschutt-Prins het in ’n persverklaring ’n stokkie gesteek voor gerugte dat die legendariese aktrise haar eie lewe geneem het.

“Dis algemene kennis dat sy aan diabetes en hartprobleme gely het.

“Haar dood is dalk verwant hieraan, maar die familie wag op ’n nadoodse ondersoek.

“Daar is baie gerugte oor die oorsaak van mev. Surtie-Richards se dood. Dít is waarom ons wil beklemtoon dat sy nie selfmoord gepleeg het nie.

“Ons sal Shaleen altyd onthou vir die dinamiese rolle wat sy in produksies soos Fiela se Kind, Knysna, Twee Grade van Moord en Vase­linetjie vertolk het.

“Die een karakter van Shaleen wat ons altyd sal bybly, is dié van die geliefde Nenna, opsigter van Marlborough Man­sions in Egoli: Plek van Goud.

Huldeblyke het van oral in die land ingestroom vir die geliefde baanbreker in die vermaakbedryf.

Fans en vriende het Shaleen vereer vir die briljante werk wat sy gedoen het en die persoon wat sy was.

Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa in Suidooster speel, het ’n roerende huldeblyk in die sosiale media geplaas. Dit blyk die rolverdeling van Suidooster het gisteroggend ’n oomblik van stilte op stel gehad toe die tragiese nuus bekend geword het.

Vasbeslotenheid

“Daar was ’n stilte in die studio toe oom Cedwyn (Joel­)­ en ek gereflekteer het op die nalatenskap wat antie Shaleen agterlaat.

“Dit is deur haar strides, haar ontwyfelbare talent, onboetvaardige vasbeslotenheid om haar werk as die verandering te gebruik, wat gemaak het dat so baie akteurs van kleur die geleenthede kon kry wat hulle vandag het.

“Ons staan trots op haar skouers.”

Ricardo Arendse het genoem dat antie Shaleen vir hom en Lee-Ann van Rooi genooi het om te kom kuier.

Hy het ook bygevoeg hy is vasbeslote om die teks wat hy vir antie Shaleen moes skryf, die lig gaan laat sien.

“Ons kon dit nie maak nie, want lewe ...

“Nou is jy weg en die teks wat jy vir my gevra het om te skryf, is halfklaar.

“Sy het die wedloop gehardloop en dit voltooi.

“Dankie vir alles en nog meer. Ek dra jou sêgoed saam met my en sal daai play klaar skryf.”

Rus sag, Nenna. Jy sal gemis word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters