2 maande gelede
Faith veg teen 'bruin vrou'-karikatuur
Ondersteun: Faith Kinniar is te sien in Antie Wi’Oekal, wat van 22 tot 24 Julie gestream kan word.Foto’s: Jeremeo le Cordeur  ~ 

DIE teaterstuk Antie Wi’Oekal dekonstrueer die stereotipe van bruin vroue.

Die talentvolle aktrise en skrywer Faith Kinniar is pas terug van Makhanda (voorheen bekend as Grahamstad) waar sy die verfilming van dié opwindende teaterstuk vir die Nasionale Kunstefees afgehandel het.

Faith is in Bellville gebore en getoë en sy het aan die Universiteit van Stellenbosch gradueer.

Sy is ’n queer Suid-Afrikaanse aktrise, playwright, satirikus en kabaretkunstenaar wat hoofsaaklik temas soos xenofobie, Islamofobie en globale bewussyn deur haar werk aanspreek.

Antie Wi’Oekal wys hoe sogenaamde bruin vroue karikature gemaak word wat vir komedie uitgebuit word. Faith se karakter vertel stories, skinder en sy deel haar beste raad uit soos wat sy baie stryde en probleme in haar soeke na ’n nuwe gown verduur.

Haar tasbare camp-agtigheid verseker grappigheid oral waar sy gaan. So ook ongevraagde opinies oor hare.

Faith, die skrywer van dié teaterstuk, verduidelik die tema van Antie Wi’Oekal.

“Dit gaan oor die voorstelling van sogenaamde ‘kleurlingvroue’ deur sogenaamde ‘kleurlingmans’ deur ’n blik wat geslag, sosio-ekonomiese status en ras uitbuit.

Fokus

“Dit is nie ’n kontemporêre teaterproduksie nie en het dus nie ’n narratiewe fokus nie. In dié stuk het ek stories tweede viool laat speel en gefokus op voorstellings wat buite hul tipiese verhale voorkom.”

Sy vertel waar die idee van dié teaterstuk vandaan gekom het.

“Ek het die teater uitgecheck in die tyd toe Lalla Hirayama onder scrutiny vir haar racially insensitive TikTok-video was.

“Gesprekke is toe begin oor die hypocrisy van sogenaamde kleurlingmans wat dieselfde ding doen sonder dat hulle daarvoor gekritiseer word.

“Dit het my daartoe gelei om ’n Theater of Cruelty-stuk te skep wat hierdie onbewuste obsessie met dié tipe voorstelling aanspreek.”

Faith verduidelik hoe sy by die titel uitgekom het.

“Baie van die shows wat sogenaamde ‘kleurlingmans’ doen, se titels is Antie-iets. Al die shows is dieselfde. Dit is ’n man wat die rol van ’n vrou vertolk.”

Faith sê sy hoop dat hierdie teaterstuk sogenaamde ‘kleurlingmans’ ’n les sal leer.

Gebrek

“Ek wens dat hulle hulself meer sal challenge in toekomstige kunsstukke in plaas daarvan om weens ’n gebrek aan verbeelding en kreatiwiteit weer met hierdie afgeleefde ou uitbeelding te kom.”

Jeremeo le Cordeur, ’n boorling van Wellington, is die regisseur van die teaterstuk.

  • Antie Wi’Oekal kan van 22 tot 24 Julie gestream word.

Die stuk is 30 minute lank.

Kaartjies kos R40 en is op nationalartsfestival.co.za/show/antie-wioekal/te koop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters