Verlede maand
Eiland minus 1
TJOMMIES: Jay Freemantle sê hy’t wonderlike vriende gemaak op Love Island SA.  ~ Foto Verskaf

HY’T nie op die eiland liefde gevind nie, maar hy het ’n hele paar cool tjommies ontmoet.

Ons het gister die geleentheid gehad om met Jay Freemantle te gesels nadat hy hierdie week die eerste eilandbewoner van Love Island SA geword het wat uitgestem is.

Jay was vol smiles toe hy verduidelik hoeveel memories hy in sy kort tydjie daar gemaak het.

“Ek het wonderlike vriende op Love Island SA ontmoet. Sjoe, Kaige en Asad sal vir ewig my broers bly.

“Ek het die beste tyd in die villa gehad.”

Die 23-jarige entrepreneur en social media influencer onthou van sy gelukkigste tye in die villa.

“Ons het ’n snackwich-toestel in die huis gehad en ons het ’n tradisie gehad dat ons elke aand snackwiches gemaak en om die tafel gepraat het.

“Ek is selfs in die huis die Snackwich Guy gedoop.”

Ons het geweet Jay het sy hart op Rochelle, die amper norse donkerkop, verloor, maar sy het toe nie dieselfde oor hom gevoel nie.

Oopgemaak

“Een van my beste oomblikke was toe ek met Rochelle gepraat het. Dit was vir my so spesiaal omdat sy baie teruggetrokke en konserwatief is.

“Sy praat nie graag oor haar gevoelens nie en sy het teenoor my oopgemaak. Dit is een van die oomblikke wat my altyd sal bybly.”

Hy het ook laat val toe hy vir almal in die huis koebaai sê, het hy so ampertjies die hangertjie wat hy heeltyd om sy nek gedra het, vir Rochelle gegee.

“Maar ek het toe daarteen besluit. My hande was voor in die hoodie waar ek die hangertjie vasgehou het, net reg om dit vir haar te gee.”

Jay sê hy het nog lank nie die liefde afgeskryf nie.

“Ek is opgewonde daaroor dat ek liefde buite die villa sal vind. Ek soek iemand wat ambisieus, liefdevol en ’n omgee-mens is. Iemand met ’n sterk voorkoms. Iemand saam met wie ek ’n lewe kan bou.”

Hy het ook gesê as julle hom in die pad sien is, moet julle nie huiwer om hallo te sê nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters