8 dae gelede
Early nou next level
WYS ANDER KANT: Early B gee Afrikaans ’n funky element met sy nuutste album.  ~ Foto Verskaf

“EK BRING Afrikaans op ’n funky level na jou.”

Só sê Early B, wat Vrydag sy tweede album, Funky-Kaans, uitgereik het.

Die rapper van Bloemendal in Port Elizabeth verklap hierdie album het ’n lekker mix van verskillende genres.

Instrumente

“Ek het probeer om die bar te raise. Jy sal nog steeds die egte Bloemendal-stories hoor, maar daar is ook gospel, dit is inspirerend en soos gewoonlik is daar baie humor.

“Met hierdie album het ek ook baie meer live instrumente gebruik.”

Die rapper se regte naam is Earl Swartz.

Sy hart klop nog warm vir sy gemeenskap. Juis daarom het hy belowende kunstenaars die voorreg gegee om saam met hom op die album te feature.

“Jack Parow is die enigste mainstream kunstenaar wat op Funky-Kaans gehoor kan word. Dit is vir my belangrik om talent te ontwikkel en ’n platform te skep vir jong, opkomende kunstenaars.”

Van die belowende kunstenaars wat op die album feature, is Annie Fortuin, Bliksemstraal, Miss Understood, die Christian Bam-koor en Tertius Cuyler.

Early B, wat die eerste Afrikaanse rapper is wat by Universal Music South Africa geteken het, sê hy wou met die nuwe album ander fasette van homself aan sy fans wys.

Reis

“Op my eerste album het ek letterlik myself voorgestel en hierdie keer wou ek meer van my veelsydigheid ten toon stel.”

Op die album van 16 songs vat die rapper jou op ’n musikale reis van ondervindings waarmee enige iemand hulle kan vereenselwig.

“In die song ‘Baainaar’ praat ek spesifiek saam met die gemeenskap.

“Ek sê vir die Baaise rappers hulle moet vasbyt terwyl ek probeer om ons op die map te sit.”

Kassie

In een van sy ander songs op die album, “Forward”, rap hy op sy unieke, komiese Early B-styl oor tienerswangerskap en die gevare van onbeskermde seks.

Die rapper verklap ook dat ons hom later vanjaar oppie kassie sal sien.

“Ek kan nie te veel sê nie, maar dit involve karre,” lag die rapper.

Funky-Kaans is op alle digitale platforms beskikbaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters