Verlede maand
Drama nou ook ’n boek

“DIE wete dat my karakters nou vir ewig op papier gaan voortleef, gee my soveel vreugde.”

Dít is hoe die briljante dramaturg Herschelle Benjamin oor sy bekroonde teaterstuk In Slavenhuis39 voel wat onlangs in ’n boek omskep is.

Hierdie teaterstuk is Herschelle se debuut vir die verhoog.

Hy was wel in 2018 deel van die Kunstekaap se Nuwe Stemme-program.

Hy vertel hoe dié projek van stapel gestuur is.

“Danél Hanekom van die uitgewery Protea Boekhuis het my genader nadat sy my teaterstuk by die Woordfees in 2019 op die planke gesien het.

“Sy het toe voorgestel dat ons dit in ’n vollengte drama omskep.

“Ek het sowat ’n jaar en ’n half daaraan gewerk.”

In Slavenhuis 39 is ’n drama wat oor vier bruin eerstejaarstudente handel.

Versoen

Dié studente deel ’n woonstel op Stellenbosch wat jare gelede slawe gehuisves het.

Hulle probeer die verlede en hede versoen en hulle deal met hedendaagse kwessies soos manlikheid, bendes, geloof, rassisme, kultuur, homo­seksualiteit en doodeenvoudige menslikheid.

Hulle sukkel in die dorp waar hulle kom studeer het en hulle sukkel om met mekaar oor die weg te kom.

Iewers is daar tog iets wat hulle saamsnoer.

Nie net probeer hulle hul eerste studiejaar slaag nie, maar hulle ondersoek wat bruinwees nou eintlik in die hedendaagse Suid-Afrika beteken.

In Slavenhuis 39 is by die Fiësta-toekennings benoem in die kategorie beste nuutgeskepte Afrikaanse teks en het ook die Woord­trofee vir beste opkomende kunstenaar ontvang.

Herschelle sê dit was vir hom lekker en terselfdertyd scary om dié teaterstuk in ’n boek te omskep.

“Dit is natuurlik ’n groot verandering van die teater. Dáár kan jy meer uitdrukkingsvol wees en daar is voorwerpe op die stel wat baie verduidelik wat aan die gebeur is. Ek moet meer verduidelik in die boek.

In Slavenhuis 39 is tans by alle Protea Boekehuis-takke, Bargain Books asook aanlyn op Takealot en Graffiti Boeke beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters