12 dae gelede
Dit suit hom!
NOOIT TE LAAT: Brandon van der Vyver het op die ouderdom van 40 ontwerpskool toe gegaan om sy droom te bewaarheid.  ~ Romano Fortuin

HY HET as 12-jarige daarvan gedroom om ’n ontwerper te word, maar geleenthede om dié droom te bewaarheid, het hom ontwyk.

Eers jare later, in die rype ouderdom van 40 jaar, het hy ontwerpskool toe gegaan om sy drome waar te maak.

Brandon van der Vyver, wat in die hartjie van Mitchells Plain by sy grootouers grootgeword het, vertel sy liefde vir mode is deur sy oupa geïnspireer.

“Ek was natuurlik baie rondom my oupa.

“Hy het byna elke dag ’n three-piece suit en skoene gedra wat so erg geblink het dat jy jou gesig daarin kon sien.

Gekwyn

“En die meeste van die dae sou hy maar net in en om die huis gewees het.

“Dit is waar my liefde vir suits begin het.”

Die sakeman en ontwerper vertel soos die jare aangestap het, het sy ontwerpersdroom weens omstandighede gekwyn.

“Hoe ouer ek geraak het, hoe meer onmoontlik het my droom begin word.

“Dit het selfs tot by ’n punt gekom waar ek my droom prysgegee het.

“En sowat sewe jaar gelede het my vrou, Celeste, ’n klein boetiek geopen waarin sy uitrustings vir spesiale geleenthede verhuur het. En dit is waar my droom om ’n ontwerper te word, weer vlamgevat het.

Besef

Hy vertel passievol hoe hy en sy vrou ’n formidabele span gevorm het en sprokiesagtige matriekafskeid-ervarings aan minderbevoorregte matrikulante gegee het.

“En soos wat ek die matrieks aangemoedig het om hul drome na te jaag, het ek besef dit is nie te laat vir my om ook my droom te bewaarheid nie.”

Brandon sê sy meisiekind het toe ook gematrikuleer en sy het vir hulle gesê sy wil ’n ontwerper word.

“My vrou het toe vir my gesê ek moet saam met my dogter ontwerpskool toe gaan.

“Ek het aanvanklik daaroor gelag, maar ek het toe op dié ouderdom gaan registreer en God was getrou deur die hele proses. Ek gaan in Maart volgende jaar gradueer.”

Brandon en sy vrou is die suksesvolle eienaars van die maatskappy B Styled SA, wat uitrustings vir enige geleentheid maak of verhuur.

Hy’t onlangs ’n nuwe reeks vir een van Mzansi se grootste sterre, Emo Adams, gemaak. Die nuwe suit-reeks heet Emo Adams Suit Line deur B Styled SA.

Stigma

“Die nuwe reeks is iets waaroor ek en Emo jare gelede gegrap het en dit het net nooit gebeur nie. Tot nou.

“Ek wou nog altyd snyers­pakke gemaak het wat meer versatile is. Die kleure waarmee ek rondspeel, is ook versatile.

“Ek wil die stigma rondom suits verander. Dis nie net vir spesiale geleenthede nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters