2 maande gelede
‘Dis ons Barakat’
GROOT EER: Die film Barakat is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir Beste Internasionale Film op die 94ste Oscars in 2022.  ~ Foto Verskaf

AMY Jephta sal die vierde vroulike Suid-Afrikaanse regisseur en die eerste vrou van kleur wees wie se film in aanmerking kom vir ’n Oscar.

Die nasionale rolprent- en-video-stigting (NFVF) het die multi-bekroonde Multichoice-film Barakat gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir Beste Internasionale Film op die 94ste Oscars in 2022.

Amy sê: “Ek is so trots dat ons klein storie oor ’n familie so baie mense bereik het.

“Om op hierdie wyse erkenning van Suid-Afrika te kry is baie spesiaal ná ’n ongelooflike uitdagende jaar vir ons filmbedryf.”

Die briljante filmregisseur is in 2019 aangewys as Standard Bank se Jong Kunstenaar van die Jaar vir teater. Sy het ook Suid-Afrika se amptelike buitelandse inskrywing vir 2018 se Golden Globes­, Ellen: The Ellen Pakkies Story, geskryf.

Sy het Barakat geskryf saam met die vervaardiger Ephraim Gordon. Dié twee is die stigters van die produksiemaatskappye PaperJet Films en Nagvlug Films. Hulle is ook mederegisseurs van die bekroonde Showmax neo-noir moordreeks Skemerdans, wat hom op die Kaapse Vlakte afspeel.

“Dit was ’n heel onverwagse keuringskeuse, maar dit bewys dat almal se harde werk aan hierdie projek die moeite werd was,” sê Ephraim.

“Dié film was ’n seëning van die begin en is nog steeds. Dit is ons barakat.”

Barakat volg die Moslem-weduwee Aisha Davids, wat probeer om haar gebroke familie te herenig tydens Eid al-Fitr – en die nuus breek van haar nuwe romanse.

Die Safta-benoemde Vi­nette Ebrahim (Skemerdans), vertolk die rol van die matriarg terwyl haar vier seuns, wat steeds sukkel om die afsterwe van hul pa twee jaar gelede te verwerk, gespeel word deur Joey Rasdien (Material), Mortimer Williams (Erfsondes), Keeno-Lee Hector (The Riviera) en Danny Ross (Number 37).

Dialek

Die res van die rolverdeling sluit in Safta-wenners Quanita Adams (Forgiveness) en June van Merch (Sara se Geheim), asook die Safta-benoemdes Bonnie Mbuli (Noughts & Crosses, Catch a Fire) en Leslie Fong (Isi­dingo).

Barakat is in Afrikaaps, die Kaapse dialek van Afrikaans wat wyd deur inwoners van die Kaapse Vlakte gepraat word. Vroeër vanjaar is die aankondiging gedoen van die eerste woordeboek van Kaaps wat tans in ontwikkeling is.

Barakat is in Mei 2021 by die Suid-Afrikaanse loket uitgereik en in Junie op Box­Office op DStv.

Dié aangrypende film, wat die Film Africa 2020-fees op ’n hoogtepunt afgesluit het, het reeds sewe internasionale toekennings gewen.

Dit sluit in Beste Interna­sionale Rolprent op 2021 se Idyllwild Internasionale Rolprentfees en Beste Verhalende Rolprent op die Motion Pictures International-rolprentfees sowel as die Reel Sisters of The Diaspora-fees in 2020.

Die benoemings vir die 94ste Academy Awards sal op 8 Februarie 2022 aangekondig word. Die Oscars-seremonie vind dan op Sondag 27 Maart 2022 plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters