2 maande gelede
Digters, skrywers vier lekker fees in McGregor
STIEK UIT: McGregor se gedigtefees vind van 19 tot 21 November plaas.  ~ Don Pinnock

EEN van die jaarlikse hoogtepunte op die Wes-Kaapse feeskalender is McGregor se gedigtefees.

Dié fees word sedert 2013 in die lieflike dorpie McGregor aangebied.

Die heerlike samekoms bring digters en poësieliefhebbers van heinde en verre bymekaar om hul liefde vir digkuns met mekaar te deel.

By vanjaar se fees is daar meer as 70 digters en skrywers wat in groepe gaan voorlees.

Lara Kirsten, Kobus­ Moolman, Malika Ndlovu, Danie Marais, Churchil Naudé, Diana Ferrus, Susan­ Woodward, Ilze Olckers­, Justin Fox, Patricia Schonstein, Dimakatso Sedite, Lynthia Julius, Nondwe Mpuma en Jacques Coetzee is van die opwindende digters wat by die fees gaan wees.

Skrywers

Hoogtepunte sluit in Vier Seisoene in die Tuin van die Beminde met Mary Oliver, verskeie boekbekendstellings, oop mikrofoon-sessies en ’n Ons Klyntji-aanbieding deur ’n dinamiese span kreatiewe skrywers.

Plaaslike talent sal ook bekendgestel word soos Seeing Beyond Words, ’n video van jong digters in McGregor wat deur Mark Chipps en Conny Mater saamgestel is.

Die volledige naweekprogram is beskikbaar op hul webwerf poetryinmcgregor.co.za.

Jane de Sousa, bestuurder van die McGregor-gedigtefees, vertel dat die program hierdie jaar in ’n nuwe formaat aangebied gaan word.

“Die digters sal vanjaar meestal die verhoog met ander deel omdat ons in minder lokale moet werk weens die pandemie-regulasies.

“Ons het besluit om meer as een kunstenaar by verskeie aanbiedinge in te sluit sodat soveel moontlik digters kan meemaak.

“Die fees het oor die jare baie vriendskappe gevorm.

“Daar is ’n gevoel van samehorigheid in die unieke manier waarop die fees elke jaar aangebied word.

Intieme

“Ons in opgewonde daaroor dat hierdie nuwe formaat sommer maklik by die intieme gevoel van die spesiale naweek sal inpas.”

Die gedigtefees vind van 19 tot 21 November plaas.

Gaan koop nou jou kaartjies op die webwerf poetryinmcgregor.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters