20 dae gelede
‘Die Here is Kwai’ vir MMF-sterre
TOEKOMS: Reggie B, Neville D en Rotas is dit eens dat dit lekker was om saam te werk.  ~ Foto Verskaf

DIT het alles begin toe Reggie B ’n gospelliedjie as sy keuse vir die trots Suid-Afrikaanse week in die kykNET-talentkompetisie Maak My Famous (MMF) gedoen het.

Neville D, die oorspronklike kunstenaar van die liedjie, was impressed en het die skaam rymkletser van Rawsonville die Sondagoggend ná sy optrede op Facebook Live gebel om hom te prys vir sy weergawe van “Die Here is Kwai”.

Die twee het toe kragte saamgesnoer om ’n remix van die liedjie te maak.

Maar dis nie al nie!

Kykers van die reeks sal onthou van Rodney Goliath aka Rotas The Rapper, wat deurgedring het na die top-10, maar besluit om die kompetisie te verlaat om sy studies voort te sit. Reggie B het toe die geleentheid gekry om sy plek vol te staan.

Neville D en Reggie B het dit toe goedgedink om die uitgesproke rymkletser van die Paarl ook in te span om by te dra tot die remix van “Die Here is Kwai”.

Voorreg

Neville D verduidelik: “Om met die volgende generasie te werk is vir my baie spesiaal.

“Ek is die produk van harde werk en great mentorship deur legends soos Allou April, Al Etto, Selwyn Shandel en Israel Houghton.”

Rotas sê dit was ’n groot voorreg om saam met Neville D te werk. “Ek het dit nie sien kom nie. Ek luister na sy musiek en hier doen ek ’n song saam met hom.

“Dis net weer ’n bewys dat daar ’n God is. Dit was ook net super-lekker om saam met hom te werk – die energie en atmosfeer.

Op sy beurt sê Reggie, wat in die eindronde laas Saterdagaand tweede in die kompetisie geëindig het: “Die droom was om eintlik net een keer saam met hom op te tree, maar toe kry ek die geleentheid om saam met hom te werk aan ’n song.

“Mindblowing, amazing in hoofletters! Ek het geleer uit dit alles dat geleenthede vinnig kom en dat alles afhang van jou en wat jy daarmee maak.”

Rotas noem dat hy net weer besef het om nederig te bly en die nederigheid van ander te ervaar.

Neville D reken Reggie B en Rotas is uiters talentvol.

“Hulle is gifted en anointed. Hulle vat my song na die volgende vlak.

“Dit bring soveel vreugde en vrede om musiek te remix wat iets beteken vir ’n ouer generasie en dit relevant te maak vir en deur ons jonger generasie.”

So, met wie wil dié twee nog in die toekoms werk?

Volgens Reggie is daar so baie, maar Tarryn Lamb, mede-aanbieder van Maak My Famous en Early B, saam met wie hy ook al in die kompetisie opgetree het.

Rotas sê hy mik hoog en weet die geleentheid sal kom om ’n song te doen saam met Joe Black en Refentse.

  • Die remix van “Die Here is Kwai” is van vandag af beskikbaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters