4 dae gelede
Dié denker dig oor diep dinge
oppe en affe
SKRYWER: Derek Hendriks se debuutbundel met gedigte en essays, Oppe en Affe, is in September uitgereik.  ~ Marlene Malan

DEREK Hendriks van Prins Albert lééf die lewe. Nie net deur prosa, poësie en musiek nie; veral deur te dink, antwoorde te soek, stil te word en te luister na wat die lewe vir hom sê.

Hy erken die groot toets is om sy emosies te konfronteer en te verwerk.

Introspeksie

Dis dié perspektiewe wat vorm gekry het in sy debuutbundel gedigte en essays, Oppe en Affe, wat vroeg in September verskyn het.

“Ek pen my emosies neer, ek bepeins, ek doen introspeksie,” vertel hy.

“Ek was al dikwels kwaad oor onreg. Dan skryf ek neer hoe ek voel. Ek staan snags op en vat my pen en ’n skryfboek.

“Ek praat dikwels met die Vader. Ek stry en baklei met Hom. Ek soek waarhede. As dit lyk asof niks regkom nie, gee ’n mens mos vir God die skuld.”

Só ken hy die pyn, skryf hy, van werkloosheid, ’n gebroke huis, honger, armoede, moedeloosheid en depressie, verwerping deur mense wat hy vertrou het en van klere wat oor en oor gedra word. Hy vra in sy boek: “Wie is ek? Is ek mensgemaak?” Hy bepeins: “Is seerkry dan ’n móét?”

Derek het ’n ATKV-liriekkursus voltooi en is aangewys as een van die top-10 in sy groep.

Hy wen die een prys ná die ander vir sy skryfwerk op literatuurfeeste soos die Prince Albert Leesfees en die Montagu Boekefees.

Van sy gedigte is al aanvaar in die nasionale Avbob-poësiekompetisie.

Tans is hy besig met die vervaardiging van sy debuut-album, Liefling, en ’n musiekvideo. Daarby werk hy aan ’n draaiboek vir ’n Afrikaanse fliek, Ou Loekie.

“Dis die verhaal van my ouma se grootmaakkind, wat al dood is. Loekie was ’n goeie ou wat die pad byster geraak het. Tog, in elkeen is iets goeds. Dís wat ek met dié storie sê.”

Sy volgende digbundel, Die Gebroke Diepte, neem reeds vorm aan. “Die tema is onder elke oppervlak skuil gebrokenheid en dat dié seerkry op die een of ander manier gevul moet word.”

  • Jy kan die boek bestel by hendriks725@­gmail.com.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters