Verlede maand
Debat is vurig
BEPEINS: Layla (Jaundré Anderson) doen navorsing oor aborsie.  ~ Foto Verskaf

DIT is jou liggaam, so dit is jou keuse.

Dít is die sterk boodskap wat die skrywers van die gewilde telenovela Arendsvlei met die aborsie-storielyn by kykers wou tuisbring.

Dié week het die tonge omtrent in die sosiale media geklap oor die matrikulant Layla, gespeel deur Jaundré Anderson, ’n aborsie gehad het nadat haar gangster-outjie haar swanger gemaak het.

Een van die gebruikers op Facebook was warm onder die kraag oor dié storielyn.

Die gebruiker meen aborsie is uit die put van die hel.

“As dit wettig is, beteken dit nie dit is reg nie.

“Aborsie is ’n euwel. Waar daar ’n hart klop, is daar ’n lewe.”

Roberta Jansch, een van die skrywers van die kykNET-sepie, sê dit was belangrik vir hulle om mense aan die praat te kry oor hierdie sensitiewe en steeds byna taboe onderwerp.

“Aborsie is iets waaroor ons nie graag praat nie. Maar nou open die storielyn ’n dialoog, mense debatteer en praat daaroor.”

Verwerp

Die skrywer verduidelik hoewel Layla deur die moeilike omstandighede gaan, vind sy haarself aan die einde van die uitdaging.

“Layla kom uit ’n familie wat haar verwerp.

“Dan raak sy verlief op die verkeerde ou en sy soek liefde van hom af.

“Ongelukkig verwerp hy haar ook en dit maak baie seer.”

Sy sê: Maar Layla gaan deur ’n rite of passage. Sy groei, sy word sterker en staan op vir haarself.

“Sy soek tevergeefs vir liefde by ander mense, maar aan die einde vind sy liefde vir haarself.”

Jansch verduidelik verder dat berading baie belangrik is vir iemand wat ’n aborsie ondergaan.

“Ons het seker gemaak dat daar ondersteuning vir Layla is.

“Jou familie en vriende kan jou nie altyd die mental ondersteuning gee wat ’n professionele persoon jou kan bied nie.”)

Arendsvlei is Maandae tot Donderdae om 20:00 op kyk­NET & kie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters