2 maande gelede
Daylin is content
trots: Dalin Sass deel ’n selfie saam met ­mense in Hanover Park. Foto: instagram  ~ 

DIE gemeenskap van Hanover Park het Saterdagmiddag ’n groot opskop gehou om sy idol, Daylin Sass, terug te verwelkom nadat hy dit tot in die topvyf van die gewilde sangkompetisie Idols SA gemaak het.

Dié buurt het uit sy nate gebars van trots toe die talentvolle Kaapse sanger teruggekeer het huis toe.

Daar is ’n lekker byeenkoms gereël waar van die plaaslike, opkomende sangers en sangeresse en selfs twee marching bands die stage gevat het voordat Daylin die gehoor toegespreek en ’n stunning perform­ance gelewer het.

Daylin sê dit was vir hom ’n groot eer om voor sy tuisdorp te kon optree.

“Jissie, ek was so verras toe ek al die mense sien. Ja, daar is baie bendebedrywighede in Hanover Park, maar daar kom ook goeie dinge uit hierdie plek en ek is ’n produk daarvan.”

Daylin vertel dis nie die eerste keer dat hy vir die Idols SA ingeskryf het nie.

#Sassnation: Felicity en Patricia Sass is reg met hul poster vir Daylin Sass.

Getwyfel

“Ek het drie of vier keer vir Idols ingeskryf. Ek het net een keer deurgedring tot die judges-rondes en ek het twee ja’s en twee nee’s gekry. En dit was die oomblik toe ek besluit het ek is klaar met Idols. Ek gaan nie weer inskryf nie.”

Daylin sê dis toe dat hy inskryf vir Maak my Famous 2 in 2020 en hy maak dit toe tot in die topdrie van dié kykNET & Kie-talentkompetisie.

“En toe besluit ek om nog een, laaste keer wéér in te skryf vir Idols. Dit was veronderstel om net vir die fun te wees.

“Ek het aan myself getwyfel en toe ek die call kry wat sê ek moet deurkom vir judges-rondes, het ek geweet ek step nou in my purpose, want ek was in ’n goeie space en het my ding gedoen.”

Soos ons op televisie gesien het, hét Daylin sy ding gedoen. Hy het week ná week die judges beïndruk met sy versatility en range en sy fans, #Sassnation, was bankvas agter hom en het hom tot in die topvyf gedra.

Die nederige sanger sê sy vordering in die kompetisie het hom nader aan die voete van Jesus gebring.

“Ek het God elke dag gedank vir waar ek is. Die journey het my nader aan God gebring.

“Soms sit ek net in stilte en voel die aanwesigheid van God.”

Daylin is ewig dankbaar vir lojale ondersteuners.

op aandag: Die jonges vermaak die gehoor met hul indrukwekkende marching routine.

Gelukkig

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir my #Sassnation, #SassWave, #MYaSASSinators nie.

“Julle is die rede dat ek dit so ver gemaak het. Sonder julle sou niks hiervan moontlik gewees het nie.

“Julle hoef nie sleg te voel oor ek uitgeval het nie. Ek wil net dankie sê dat ek dit tot in die topvyf gemaak het. Dit was genoeg. Ek is gelukkig.

“Dit is die nature van die kompetisie dat ’n mens uitgestem word. Ek is steeds hier, ek is tevrede en content.

“Ek weet God het ’n groter plan en ek berus daarin.

“My journey op Idols het geëindig, maar dis die begin van my vrugbare loopbaan in die bedryf en ek is baie opgewonde.”

staan saam: Hierdie marching band begin die verrigtinge vir die dag op ’n hoë noot.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters