10 dae gelede
Ceagan se kers uitgeblaas
OORLEDE: Die akteur Ceagan Arendse het die naweek gesterf. FOTO’S VERSKAF  ~ 

NET toe sy loopbaan vlam vat, verloor hy sy lewe.

Ons harte was gebreek toe ons die naweek hoor die akteur Ceagan Arendse (34) het afgesterf.

Die akteur het diep in ons harte gekruip toe hy die karakter van die gevaarlike en rowwe Woelag in Arendsvlei gespeel het.

kykNET & Kie het die tragiese dood van die geliefde akteur bevestig.

Familie

“Die naweek het ons die slegte nuus ontvang dat die akteur Ceagan Arendse afgesterf het.

“Hy was ’n geliefde akteur wat in vele programme soos Arendsvlei, Suidooster en Projek Dina te siene was. Ons dink aan sy familie en vriende in dié moei­like tyd.”

Die bedroefde familie van wyle Ceagan het in 'n verklaring gesê hy het Sondag sy eie lewe geneem.

"Ceagan het ongelukkig sy stryd teen depressie verloor en as gevolg daarvan het hy sy eie lewe geneem.

"Hy los agter sy vrou Ziggy Arendse, kinders, sy ouers Desmore en Bertram en sy broer Bevan."

Baie van Ceagan se kollegas het beaam dat, hoewel hy dikwels ’n rowwe karakter gespeel het, hy eintlik ’n sagte ou met ’n baie groot hart was.

Keenan Herman, wat saam met Ceagan in Arendsvlei gespeel het, sê hy was ’n genuinely gawe mens.

“Ek het Ceagan op die stel van Arendsvlei ontmoet en ons het onmiddellik gekliek. Ons karakters in Arendsvlei was tjommies en toe ek saam met hom ge-interact het, het dit dadelik vir my gevoel asof hy een van my broese is.

“Hy het daarvan gehou om grappe te maak. Hy was slim, witty en baie intelligent. Hy was ook altyd gaaf en het ander mense voor homself gestel.”

verlies Ceagan Arendse is veral geliefd danksy sy briljante vertolking van sy rol as Woelag in Arendsvlei.

Saamgewerk

Keenan sê dis vir hom hartseer dat sy vriend en kollega nou nie eens een van sy grootste werke as akteur self sal kan sien nie.

Die twee het ook saamgewerk aan die Kaapse murder mystery-reeks Skemerdans, wat binnekort op Showmax uitgereik gaan word. Daar is laat laas jaar aan die reeks van 13 episodes in die bekende nagklub Club Galaxy geskiet. Die wyle akteur vertolk die rol van die familie se swartskaap, Warren, in die reeks.

“Ek sou sê hierdie was Ceagan se eerste groot rol. Hy is een van die hoofkarakters in Skemerdans en het regtig ’n goeie job met sy karakter gedoen.

“Hy was só excited hieroor en dis hartseer dat hy nie die vrugte van hierdie job sal kan pluk wanneer dit gaan launch nie.

“Hierdie deurbraak-rol sou vir hom só baie deure oopgemaak het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters