2 maande gelede
Cameron laat vlag wapper
Pro danser: Cameron Lombard gaan hom nou aansluit by die Britse weergawe van Strictly Come Dancing.  ~ Instagram

HY DANS al van ses jaar oud af kampioenskapstitels los en nou gaan hy Brittanje aan die brand dans.

Die Kapenaar Cameron Lombard (20) gaan hom nou aansluit by die Britse weergawe van die gewilde dansprogram Strictly Come­ Dancing.

Die uitmuntende danser het in sy loopbaan 18 titels in die ballroom- en Latynse kategorie verower.

Hy was in 2012 een van die finaliste van die talentkompetisie South Africa’s Got Talent.

Ek is seker julle sal kan onthou hoe Cameron en sy vurige dansmaat, Donlynn Fischer, in haar lemmetjiegroen rok, die SA’s Got Talent-beoordelaars oopmond laat staar het na hul perfekte en spicy dansroetine.

En daai tyd toe was die twee dansers maar net 13 jaar oud.

Hy is tans die Suid-Afrikaanse kampioen in Latynse danse en het Suid-Afrika in 2019 by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms verteenwoordig.

Cameron het trots op sy Instagram aangekondig dat hy een van die professionele dansers is wat gaan deelneem aan die 19de seisoen, wat in September op die kassie gaan wees.

“Ek is buite myself van opgewondenheid om te noem dat ek my as ’n professionele danser by Strictly Come Dancing aansluit.

“Dis nie net ’n droom wat vir my waar geword het nie, dit is ook ’n uitdaging wat ek met albei hande aangryp.”

Hy voeg by dat dit vir hom ’n geleentheid is om Suid-Afrika se vlag hoog te laat wapper.

“Dit is ’n eer om Kaapstad en Suid-Afrika te verteenwoordig en van die wêreld se beste dansers op die verhoog te join.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters