14 dae gelede
Bundel spog met 170 stories
Verlief op woorde: Anthony Nolan Venter het sy rubriekbundel uitgereik.  ~ Verskaf

DIE rubriekskrywer Anthony Nolan Venter (62) van Fort Beaufort in die Oos-Kaap het onlangs sy rubriek-bundel uitgereik.

Venter, ’n voormalige onderwyser en skoolhoof, is gebore in die plattelandse dorpie Cofimvaba­ in die voormalige Transkei.

Hy het vroeër jare ’n digbundel en roman uitgereik.

Die eerste bundel en roman het albei gehandel oor sy 9-jarige seun en 11-jarige nefie wat hy op 4 Oktober 1997 verloor het toe hulle in ’n rivier naby hul huis verdrink het.

Sy digbundel, “Dood van ’n Engel”, en roman, “Om ’n Kind Te Verloor”, was albei gegrond op dié tragedie.

Venter vertel die twee publikasies is basies ’n ontlading van innerlike emosies.

Sy liefde vir lees en skryf het egter al van kleins af begin.

Versot

“Op laerskool het ek die prenteboekies van destyds stukkend gelees en ek was versot daarop om gedigte op te sê en te dramatiseer.”

“Op hoërskool het my onderwysers dikwels met my geraas omdat my opstelle te lank was. As ek eers begin skryf, raak ek meegevoer,” vertel hy.

Venter skryf reeds sedert 2009 rubrieke vir Die Burger en verskeie van sy stories het al in Huisgenoot verskyn.

Sy rubriekbundel is in die Covid-19-tydperk saamgestel.

Die bundel is ’n samevatting van ’n totaal van 170 rubrieke wat sedert 2009 in die koerante verskyn het.

Dit bestaan uit stories van sy kleintyd sowel as hedendaagse kwessies wat hy aanspreek.

Die bundel “Klippies in my Kinderskoene” is op 18 Junie in Fort Beaufort uitgereik.

Diegene wat belangstel, kan meer inligting kry deur Venter te skakel of te WhatsApp by 063 149 2490.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters