14 dae gelede
Broers hou wéér opskop
GROOT CELEBRATION: Emo en Loukmaan Adams vier vanjaar die 10de bestaansjaar van hul gewilde konsert Brother Love.  ~ Foto Verskaf

DIS Brother Love se 10de verjaardag en die Adams-broers is reg om ’n lekker groot opskop te reël!

Die sanger, komediant en aanbieder Emo Adams onthou hoe dié produksie destyds begin is.

“Ek sal nooit vergeet nie. In 2011 toe sê Loukmaan vir my dat die Baxter-teater twee weke oop het. Hy stel toe voor dat ek en hy ’n show saam doen oor ons daai tyd al byna 10 jaar nie saam opgetree het nie,” laat hoor Emo.

Hy sê hy het toe vir sy boeta Loukmaan gevra waaroor die show moet gaan.

“Hy het toe gesê dit moet oor ons gaan en oor dit wat ons in die 10 jaar gedoen het toe ons nie saam opgetree het nie. En dís hoe Brother Love gebore is.”

Die kunstenaar en regisseur Basil Appollis het hulle toe oorreed om hul eie storie te skryf.

Humor

“Basil het gesê ons storie (lewensverhaal) is goed genoeg. Ons het toe geskryf oor wie ons ouers is sodat mense ’n bietjie agtergrond kon kry.”

Benewens Emo se vinnige humor en lekker dans-moves en Loukmaan se charismatiese teenwoordigheid op die verhoog, is daar ’n paar opwindende name op die lys van gaskunstenaars.

Die Baaise rapper Early B, Kaapse sangers Nur Abrahams en Alistair Izobell, Maak My Famous se Cheswyn Ruiters en Rotas The Rapper tree ook op.

Emo remind ons waarom jy moet woeker om jou kaartjies vir Brother Love te koop.

“Ons doen dít waarvoor ons lief is. Dit gaan ’n awesome celebra­tion van broers wees met ’n paar van ons tjommies in die bedryf.”

Die konsert vind op 9 April plaas en kaartjies is op quicket.com beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters