Verlede maand
Bekendes maak draai
Nicci (Gerwen Simon)
Nicci (Gerwen Simon) keer terug na Ruiterbosch.  ~ Foto Verskaf

KYKERS kan uitsien na stormsterkte wind wat binnekort gaan waai in die gewilde sepie Suidooster op kykNET.

Groot drama gaan weer in Suidooster woed wanneer ’n paar ou bekende gesigte na die sepie terugkeer.

Estelle, gespeel deur die veteraan-aktrise Elsabé Daneel, sal van Donderdag af in die sepie te sien wees wanneer sy skielik in Ruiterbosch opdaag.

Estelle is die ma van Carmen (Desiré Gardner) en die aanneem-ma van Bianca (Simone Biscombe).

Die rede vir Estelle se besoek is om Carmen by te staan met komplikasies in haar swangerskap.

Kort op Estelle se hakke daag haar man, Gawie, gespeel­ deur Albert Maritz, ook daar op.

’n Ander aktrise wat aan Suidooster-kykers bekend sal wees, is Gerwen Simon, wat vir ’n wyle in April terugkeer.

Simon was lid van Suidooster se oorspronklike rolverdeling en was van 2015 tot 2017 as Nicci in die sepie te sien.

Simon het ook intussen ’n paar keer gasverskynings in Suidooster gemaak.

Onherroeplik

Volgens Suidooster se woordvoerder, Wilmer Müller, is daar binnekort ’n paar storielyn-skokke op pad waarna kykers kan uitsien.

“In die komende weke gaan ’n paar karakters se lewens onherroeplik verander en ’n kinkel of twee beloof drama wat geen kyker sou kon voorsien het nie.”

Een van die ander gas-akteurs wat ook binnekort te sien gaan wees, is Adrian Alper as Joy (Monique Rockman) se pa, Gino.

Dan is daar ook André Jacobs as Mnr. Pienaar, wat by die kerk in Ruiterbosch betrokke is.

“In Mei gaan kykers ook nuwe permanente karakters­ ontmoet, maar ons wil nie nou al te veel weggee nie,” verklap Wilmer.

adrian
DRAMA: Adrian Alper is Gino, Joy (Monique Rockman) se pa. Foto: Verskaf

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters