5 dae gelede
Artscape sê dankie
In aksie: Gloria Bosman gaan optree in die Kunstekaap-teater se Thanks­giving-konsert.  ~ Verskaf

DIE Kunstekaap-teater hou Sondagaand ’n groot Thanksgiving-konsert om dankie te sê aan sy vennote, borge en teatergangers omdat hulle ’n rol daarin gespeel het om die teater se deure oop te hou deur hierdie moeilike pandemie-tyd.

Die konsert beloof ’n lekker mengelmoes vermaaklikheid op die aand – als van klassieke musiek en energieke dansgroepe tot sirkustoertjies gaan op die Kunstekaap-verhoog wees.

Van die kunstenaars wat gaan optree by die Thanks­giving-konsert is die Kaapse Filharmoniese orkes, Nomakrestu Xakathugaga, Indoni Dance Academy, die talentvolle sangeres Jodi Jantjies, die Unmute Dance Company, SA Youth Choir, Palladium­ deur Karl Jenkins van Zip Zap Circus, Gloria Bosman, Phoebe Mgxaji, Zimbini Makwetu en nog baie andere.

Die konsert word gehou in samewerking met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die Associated Arts Companies by die Kunstekaap-teater.

Gedenkplaat

Net voordat die konsert Sondagaand 18:00 begin, gaan daar eers ’n gedenkplaat onthul word wat die 50ste bestaansjaar van die gebou vier waarin die Kunstekaap gehuisves word.

Die onthulling gaan bygewoon word deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, asook die Kunstekaap-raad se voorsitter, Rajesh Jock.

Die CEO van die Kunstekaap-teater, Marlene le Roux, sê: “Hierdie konsert is net om dankie aan almal te sê, die naam van die konsert, Thanksgiving Concert, som mooi ons gevoel veral teenoor ons vennote en vriende op.

“Ons bly gedagtig aan die geskiedenis en elemente wat ons in staat gestel het om hierdie mylpaal te bereik.

Sy sê verder: “Ons wil ook dankie sê aan al diegene wat voor ons gekom het en diegene wat tans bydra tot ons sukses.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters