12 dae gelede
‘Arendsvlei’ gee die LGBTQIA crowd ’n beat

KYK, daar’s nooit ’n dull moment in Arendsvlei met Lionel Foster (Jody Abrahams) nie. Dié pa en sy seun, Lee-Roy Foster (Roberto Kyle), het onlangs kykers op die talent show vermaak – en watter bederf was dit nie.

Nou het dié pa-en-seun-duo weer hul performance-skoene afgestof. Hulle tree vanaand by ’n LGBTQIA-event in die Vlei op.

Kykers weet dat Lionel nou al ’n hele rukkie sy talent probeer vind. Die lewens­oriëntering-onnie het nou al als van komedie tot rymklets, dans en sang probeer! Geen van sy probeerslae het volgens plan uitgewerk nie. Tog het Lionel besluit om vir die laaste keer op ’n spesiale event in die Vlei op te tree.

Wat die musiek so spesiaal maak, is dat Jody en Roberto­ self daaraan gewerk het. Die skrywers het die oorspronklike lirieke geskryf, maar vir Jody en Roberto die vryheid gegee om daaraan te werk en eg aan hul karakters te maak.

“Ons het aan verse gesny en bygevoeg. Ons wou rêrig gehad het dat dit by die occasion moet pas,” vertel Roberto.

“Die ­musiek­ moedig mense aan om vir hulself op te daag en vir hulself te veg. Só sal hulle ander mense ook aanmoedig. Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, fight vir jouself!”

Skepper en hoofskrywer van Arendsvlei, Theltom ­Masimila­, noem dat dit baie belangrik is om stories van alle gemeenskappe te vertel.

“Maar as daar een gemeenskap is wat op televisie afgeskeep word, is dit die LGBTQIA-gemeenskap. Op die oomblik word dié gemeenskap aangeval en dis ons wat ’n platform het se verantwoordelikheid om meer bewusmaking te skep. Ons kan baie mense bereik,” sê ­Theltom­.

  • + Arendsvlei word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145 uitgesaai.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters