9 dae gelede
Amper tyd vir die kryt

ONS gaan tóg ’n boksgeveg tussen die rival rappers AKA en Cassper Nyovest sien.

SupaMega het eindelik die kontrak geteken wat verseker dat die twee aartsvyande dinge in die kryt gaan uitsort.

AKA, wie se regte naam Kiernan Forbes is, het in die sosiale media bevestig hy het op die dotted line geteken.

“Dit is wonderlik hoe iemand in ’n tawwe ou verander terwyl die geskiedenis en ondervinding ’n ander storie vertel. Die tyd vir praatjies is amper oor.”

Dié twee wou mekaar mos met die vuiste bykom nadat SupaMega Cassper se ouers uitgevloek het.

Cassper was so kwaad, hy wou AKA net daar te lyf gaan.

Hy het egter gesê hy het ’n brand en ’n reputasie om aan te dink en hy kan dus nie sommer net aan AKA slaan nie. Daar moet ’n amptelike boxing match wees sodat hy sake met hom kan uitklaar.

Volgens AKA het hy gesloer met die teken van die bokskontrak oor hy iemand gesoek het om geld in die match te belê.

Vetkoek

“Hier is waarom nie een van ons al die kontrak geteken het nie: Ek moes iemand gaan soek om R2 miljoen te belê oor hulle my R500 000 wou betaal. Noudat ek my geld het, kan ons die kontrak binnekort afhandel.”

Natuurlik het SupaMega soos gewoonlik sy bek warm gepraat.

“Boxing negotiations vat tyd. Terwyl ek die afgelope jaar getrain het, het hy (Cassper) vetkoek geëet.”

Op wie sal jy jou geld plaas? AKA of Cassper?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters