2 maande gelede
Akteur bemoedig
ONDERSTEUN: Neil Oortman (tweede van links) met sy familie – Phelan, Philider, Phebe en Noah (voor).  ~ Foto Verskaf

DIE trailer première van die dokumentêre film His Plan is onlangs by die Rotariërklub in Bishop Lavis bekendgestel.

Sowat 60 gaste het die trailer kom uitkyk. Die film gaan oor die kinderjare van die onderwyser en akteur Neil Oortman (45) van Belhar. Die bekende gospelsangeres Phillipine Morkel het ook die gaste met haar nagtegaalstem betower.

Neil het besluit om dié film oor sy lewe te skryf om mense te bemoedig om nie moed op te gee nie. Veral mense wat dieselfde deurmaak as wat hy as kind deurgemaak het.

Drama

“My grootwordjare daar in Elsiesrivier is gekenmerk deur familiedrama, domestic vio­lence en alkoholmisbruik,” vertel Neil.

“My pa het ons lewe hel gemaak, soveel dat ek my matriekjaar gedruip het.

“Maar in elke omstandigheid is daar mos altyd mense wat op jou pad kom wat jou lewe positief beïnvloed.

“In my geval was dit die bure, my Sondagskooljuffrou en die sekretaresse van die destydse Laerskool Elsiesrivier, wat nou Eldene Primêr is.

“My beste vriend, Ricky Keyser, het my altyd na die jeugdienste gevat en my ook aangemoedig om my matriek oor te skryf.”

Neil het homself daarna deur Unisa as onderwyser bekwaam.

Hy het nie eintlik bekend­stelling nodig nie. Hy het die hoofrol in die film Bloed Betaal vertolk en verskyn ook in die opvolgfilm Bloed Betaal 2, wat in Desember bekendgestel gaan word.

Hy wys ook gesig in ’n Netflix film wat binnekort uitgesaai gaan word.

“Ek het nooit moed opgegee nie, want ek het geweet God het ’n plan met my lewe.”

“Die film is omtrent 40 minute lank en dit gaan in Desember in die Ster-Kinekor-teater in N1 City gescreen word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters