7 maande gelede
‘Afgrond’ wink
vyf vroue: Gretchen Ramsden, Kanya Viljoen, Jana Kruger, Marguerite van Eeden en Kim Cloete speel in Afgrond. foto verskaf  ~ 

VYF enigmatiese, unieke vroue wat elk gekonfronteer word met een vraag: Hoe naby moet ons aan die rand van ’n afgrond staan voordat ons besluit om verantwoordelikheid vir ons eie besluite te neem?

In kykNET se nuwe dramareeks Afgrond kruis die paaie van vyf vroue uit uiteenlopende wêrelde – ’n sielkundige, reg­sekretaresse, kandidaat-prokureur, glansende sepiester en begrafnisondernemer.

Julia Cilliers (Jana Kruger), die sielkundige, sukkel om haar skuldgevoel oor haar kind se dood te verwerk.

Dit dwing haar om in ’n moeilike huwelik met Basson Brink (Stian Bam), hoof van Cilliers, Mouton en Molefe, ’n suksesvolle regsfirma in Kaapstad, te bly.

Hannelie Fourie (Marguerite van Eeden) kom na Julia vir berading omdat sy by die werk seksueel mishandel word. Sy word gedwing om ’n moeilike keuse te maak wat haar eindelik sal bevry.

Geheime

Lana Bridgett (Kim Cloete), ’n glansende sepiester, ontwaak ná vyf jaar uit ’n koma en besef sy het geheueverlies. Sy kry hipnoterapie by Julia om haar daarmee te help.

Sy ontdek skokkende geheime oor haar verlede en haarself.

Nadine May (Gretchen Ramsden), ’n jong kandidaat-prokureur, bly in Vredendal. Haar droom word waar toe ’n aanbod kry vir ’n pos by Cilliers, Mouton en Molefe.

Sy moet kies tussen haar geliefde, Franklin (Roberto Kyle), en die nuwe werksgeleentheid.

Leora van Niekerk (Kanya Viljoen) moet haar pa se begrafnisonderneming oorneem. Terwyl sy kop bo water probeer hou by die werk, vind sy ’n paar skokkende waarhede uit oor haar verloofde, Etienne (Wilhelm van der Walt).

Ander akteurs wat in die reeks speel, is Elsabé Daneel, Ivan Zimmermann, Craig Adriaanse, Nadia Valvekens, Chris van Niekerk, Laudo Liebenberg en nog vele meer. Dis Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van Afgrond, se tweede reeks wat rondom vyf vroue draai.

“Ek het nog altyd belanggestel in inhoud wat kyk hoe verskillende mense en gebeure met mekaar verweef is sonder dat hulle eens weet hulle het iets in gemeen.

Kyker

“So, ek het die konsep gehad om vyf vroue se lewe uit te weef en te wys hoe hulle verbind is.

“Die kyker weet hoe die vyf vroue verbind is nog voordat hulle dit self weet.”

Die reeks begin op 17 Februarie op kykNET (DStv se kanaal 145).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters