9 dae gelede
Aanbieder is vol dank ná Covid-stryd
OORWINNAAR: Lyntjie Jaars is vol dankbaarheid nadat sy die corona-virus onlangs geklop het.  ~ Netwerk24

“EK IS dankbaar dat ek nog lewend en gesond is.”

Só vertel die radio-en-TV-aanbieder Lyntjie Jaars uit haar mamma se huis in die hartjie van Bergsig, Springbok.

“Dis so lekker om my batteries hier in Namakwaland te herlaai en te rus. Ek is opgewonde vir 2021 se vooruitsigte.”

Die radio-persoonlikheid sê in die grendeltyd het sy gesien ons lewe in ’n onge­lyke samelewing met ongekende swaarkry.

“Kyk, 2020 was ’n big revealer ten opsigte van hoe ons gemeenskappe lyk.

“Dit het my ook weer geleer om met opregtheid van hart om te gee en te besef dit wat ek het, nie vir myself is nie. Die lewe skuld my en jou niks.”

Jaars vertel dat sy die corona-virus oorwin het.

“Ek was ook siek met Covid-19. Ek het nog nooit so siek gevoel nie. Ek was aangetas van kop tot toon.

“Die lyfseer het gemaak dat ek kon nie roer nie; jy lê en sweet en met so ’n hoofpyn.

“Jy slaap letterlik die dae om. My stem was swak en ek was angsbevange, want jy weet nie of jy dit gaan maak tot môre nie ...

“Ek is so dankbaar ek lewe en daarom wil ek dankie se vir Justin “Jassie” Esau wat so mooi na my gekyk het.”

Jaars gee ’n ernstige waarskuwing aan ons.

“Covid-19 is nie ’n joke nie. Dis ’n ernstige siekte wat doodmaak en dit is ’n werklikheid.”

Sy verduidelik verder dat Christus haar rots is.

“Sonder my geloof is ek niks! As dit nie vir die Here was nie, waar sou ek vandag gewees het?

Opgestaan

“Geloof is die kompas van my lewe dit is ook wat my aanhou laat beweeg. Dit hou die hoop brandend.

“Ek weet vir seker dat Jesus leef, dat Hy uit die dood uit opgestaan het en weer sal kom!

“My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.

“Christus se genade is genoeg vir ons almal. In ons swakheid word sy sterkte volbring.”

Sy deel haar motivering vir die nuwe jaar met ons.

“My boodskap vir 2021 is dít: Behandel jouself en ander met respek.

“Kom ons kyk weer uit vir mekaar, vir ons gemeenskappe en veral ons kinders.

“Laat ons waarlik weer die krag van dankbaarheid besef, veral teenoor ons hemelse Vader.

“Mag die genade, vrede en liefde van God onse Vader met ons wees van nou tot in ewigheid.

“Doen wat jy moet doen en lewe voluit.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters