24 dae gelede
Monrico kry die laaste lag
DROOM: Van Wyk wou nog altyd komedie as loopbaan volg en sy sege maak vir hom deure oop om dit te doen.  ~ Foto Verskaf

HY SIT duisende kilometers van Suid-Afrika in Karlsruhe in Suidwes-Duitsland, maar dit het hom nie gekeer om sy droom te volg nie en Sondagaand is Monrico van Wyk as die Lag My Kla-wenner gekroon.

Van Wyk was een van 15 deelnemers aan die begin van September in Son en kykNET se aanlyn komediereeks.

Hy en die res is deur die grapjasse Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido gementor. Verlede week het dié komediante twee deelnemers elk gekies vir wie die publiek as wenner kon stem.

“Ek glo met die wen van die kompetisie sal dit vir my baie deure oopmaak om gereeld komedie te doen en so ook bekend te kan word in die bedryf. Dit was nog altyd my droom,” sê Van Wyk.

Van Wyk, gebore in Eersterivier en getoë in Wellington, voeg by dat hy meer komedie-shows vir liefdadigheid wil doen.

Hy beskryf homself as die grapjas van die familie.

Van Wyk onthou hoe hy as laitie in die kerk gesit en wag het dat die pastoor of ’n gemeentelid iets verkeerds of buite konteks moet sê. Dít sou dan sy materiaal word.

Eer

Sy liefde vir komedie kom uit die dae van Kinders van die Ses, met sy pa wat die films gekoop het.

“Dis hoe ek my rolmodel, Imraan Adams, oftewel Emo Adams, ontmoet het en waarom ek komedie doen.

“Dit sal vir my ’n groot eer wees as ek saam met hom kan optree, of selfs net ’n opening act by een van sy optredes kan wees.”

Van Wyk wil sommer in Desember al sy eie aanlyn komedie-show doen.

“Aanlyn komedie is iets nuuts vir my, maar ek het in Julie aan een uit my woonstel in Duitsland deelgeneem. Die geld wat ingesamel is, het gegaan om honger magies in en om Kaapstad tydens die Covid-19-pandemie te help voed.

“Die show moes ’n sukses gewees het, want ek het sowat R57 000 ingesamel.

“Ek sal nou een in Desember wil doen en die inkomste gebruik vir projekte wat ek tans in Kaapstad ondersteun.

“My droom is om stand-up comedy in ’n teater te doen. Tans plaas ek my hoop in dié droom om ’n werklikheid te word.”

  • Van Wyk is saam met die twee naaswenners, Pau­line Aaron en Rowen Geneke, met ander groot name in die bedryf op 5 November by die Suidoosterfees-inry­teater te sien.

Kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters