27 dae gelede
Leer ken die Lag My Kla-finaliste
lag my kla,son,kyknet
Son & kykNET bied aan Lag My Kla  ~ 

DIÉ mense is Maandagaand live op son.co.za aangewys as die finaliste in Son, kyk­NET en die Suidoosterfees se Lag My Kla-kompetisie.

Terwyl die stemme getel en geoudit word, leer ken ons die ses finaliste van nader.

Pauline Aaron is ’n drama-onderwyseres van Bellville.

Sy vertel sy is opgelei om stories te vertel en sy hoop om die geleentheid te gebruik om ’n deurbraak te maak in die vermaakbedryf.

Rowen Geneke van Wellington sê hy het ingeskryf omdat hy al 15 jaar ’n groot liefde vir komedie het en dié groot platform net die regte een is om te wys waarvan hy gemaak is.

Monrico van Wyk is ook ’n Wellingtonner, maar hy is in Eersterivier gebore en woon deeltyds in Duitsland.

Bonus

Van Wyk vertel hy is maar altyd as die grap in die familie gesien.

“Ek het die geleentheid gesien en besluit om dit met albei hande aan te gryp, want ek glo dit is my groot deurbraak,” sê hy.

Van Wyk sê vir hom is die bonus dat deel van die prys is om by die Suidoosterfees op te tree – en dít was nog altyd een van sy grootste drome.

Allister October van Bredasdorp sê: “Ek het een aand gelê en myself gevra hoekom ek nie komedie probeer nie.

“Van daar het die wonders gebeur, want hier is ek ’n finalis in die eerste Afrikaanse aanlyn komedie-reeks.”

Vernon Raas is ’n student van die Noord-Kaapse dorpie Delportshoop. Hy woon tans in Kimberley.

Raas vertel een van sy groot drome was om deur Leon Schuster geprank te word sodat hy op die TV kan verskyn.

Nog ’n boorling van die Noord-Kaap is Jean Julies. Hy is oor­spronklik van Fraserburg, maar het in die Kaap geswot en ’n rukkie daar skoolgehou. Julies is in 2016 terug na sy tuisdorp.

Hy sê hy het ingeskryf omdat dit ’n briljante platform is om sy droom te bewaarheid.

Die ses finaliste reken almal hulle het baie uit die kompetisie geleer. Hulle praat met groot lof van die mentors, Rezah Forbes, Shimmy Isaacs en Solomon Cupido.

Aaron en Geneke sê: “Ons het baie by Rezah geleer – hoe belangrik aanbieding is en dat jy in jouself en jou optrede moet glo voordat jy kan verwag ander moet in jou glo.”

Van Wyk sê: “Shimmy het my waardevolle wenke gegee oor hoe ek die voorkant van die kamera sonder kroon kan verbeter.”

October sê die les wat hy geleer het, is dat komedie harde werk is.

Julies voeg by: “Uit die kompetisie het ek geleer daar is altyd ruimte vir verbetering.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters