15 dae gelede
Wys hom, Thulani!
VERDEDIG TITEL: Thulani Mbenge moet oor ’n moeilike hekkie kom. INLAS: Miguel Vázquez. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

SUID-AFRIKA se Thulani Mbenge kom Saterdagaand by Emperors Palace voor die grootste toets van sy loopbaan te staan wanneer hy die ervare Mexikaan Miguel Vázquez om die IBO se weltergewigtitel pak.

Mbenge het die nuwe kam­pioen geword toe hy Diego Gabriel Chaves op 26 Junie om die vakante titel met ’n TKO verslaan het.

Dit is dus die eerste keer dat hy die titel sal verdedig.

As dit by ervaring kom, klim Mbenge met ’n helse agterstand deur die toue, want hy het nog net 14 beroepsgevegte agter die rug teenoor die 46 van Vázquez.

Mbenge is van Mdantsane net buite Oos-Londen, maar word tans in Fourways, Johannesburg, deur die Smith-broers – Peter en Sean – afgerig.

Vázquez het in sy loopbaan al 15 teenstanders katswink geslaan – meer as wat Mbenge gevegte gehad het.

Dit was egter van kleins af Mbenge se droom om ’n wêreldkampioen te word en hy besef terdeë wat ’n yslike taak hy op hande het.

Onder die Smith-broers loop hy egter oor van selfvertroue, want hulle is daagliks besig om meer en meer respek af te dwing as breiers.

Hulle is die seuns van die voormalige SA kampioen Kosie Smith.

’n Oorwinning vir Mbenge sal die pad oopmaak na groot gevegte in 2019 wat hom die kans sal bied om homself teen die wêreld se bestes te meet.

Maar voordat dít kan gebeur, sal Mbenge eers moet seker maak dat hy oor die Vázquez-hekkie kom. Maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters