26 dae gelede
WP-vroue baas oor O.P.
Blits: Vuyolwethu Maqholo, heelagter van die WP, is gister in aksie op Florida ParkFoto: Melinda Stuurman  ~ 

DIE Westelike Provinsie se vrouespan het gister sy kans versterk om die titel as kampioen van die Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie suksesvol te verdedig.

Die Streeptruie was gister op Florida Park in Ravensmead met 27-22 oor die Oostelike Provinsie baas

Die span van Laurian Johannes, afrigter, het in die eerste helfte mee­doënloos aangeval en het in die rustyd reeds met 17-5 voorgeloop

Ná die rustyd het die besoekers van die Baai met ’n geweldige terugveg­poging vorendag gekom.

Hulle het twee verdoelde drieë aangeteken wat die telling met 17-17 gelykop gemaak het.

Die Kapenaars het egter die pap voorlangs behoorlik dik aangemaak en oorgestorm vir hulle derde drie om weer die voortou te neem.

Die woelwater-nr. 6-flank Lihle Mzimkhulu was een van die Kapenaars se groot uitblinkers.

Sy was nie net ’n doring in die vlees van die Baaienaars by die afbreekpunte nie, maar sy het ook beïndruk met haar inklimspel in die vastelos.

Die besoekers het egter nooit tou opgegooi nie.

Hulle het weer binne trefafstand gekom toe hulle hulle derde drie van die tweede helfte gaan druk het.

Verdediging

Die tuisspan het egter gewys waarom hy vir die laaste twee jaar die beste vrouespan in die land was.

Jongi Nokwe, die voormalige Springbok-vleuel wat die agterlyn afrig, was agterna uiteraard gelukkig met sy span se vertoning.

Nokwe was egter nie so gelukkig met sy span se verdediging nie.

“Ons het goed begin, maar ons het hulle in die tweede helfte toegelaat om weer in die game te kom,” het hy gesê.

“Al het ons die game voorlangs heeltemal oorheers, het ons te veel foute op die verdediging gemaak en hulle toegelaat om terug te kom in die game.

“Ons het baie kanse geskep, maar ons kon dit ongelukkig nie altyd in punte omskep nie.

“Ons sal ook voortaan nog hard aan ons hanteerwerk moet slyp.”

Labeeb Levy, die WP se high performance coach, was tevrede met die span se vertoning.

Levy het gesê: “Ons het by tye goed gevaar, maar het ons konsentrasie in die tweede helfte verloor.

“Ons het defensive lapses gehad en hulle toegelaat om op die teenaanval te score. Ons het reeds vir die final gekwalifiseer.”

Hy het bygevoeg: “Hierdie oorwinning sal goed vir die span se selfvertroue wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters