19 dae gelede
WP trap Pumas se tjank af
pale Toe: Sergeal Petersen, vleuel van die WP, is reg om een van sy twee drieë te druk. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

SERGEAL Petersen het Vrydagaand in sy eerste wedstryd in die beginspan van die Westelike Provinsie se Curriebekerspan gewys waarom hy so hoog aangeskryf is.

Die 24-jarige boorling van Humansdorp in die Oos-Kaap is sedert sy aankoms in die Kaap al vir ’n jaar weens ’n besering buite aksie.

Die vlugvoetige vleuel het in die WP se bonuspunt-oorwinning met 57-28 oor die Pumas voortreflik gespeel en gewys waarom die Streeptruie hom in die eerste plek Kaap toe gelok het.

Petersen het nie net twee skitterdrieë gedruk nie, maar het ook deurgaans pragspel gelewer. Hy is agterna welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

Hy sê: “Dit was my eerste game in die beginspan en ek het net vir myself gesê ek gaan nie te veel druk op myself plaas nie. Ek het net uitgegaan om dit te geniet.”

Agterlyn

Die beskeie spoedvraat het sy spanmaats uitgesonder vir hul uitstekende vertoning.

“Ons het wêreldklas- aanvallende spelers in die agterlyn soos Damian de Allende, Dillyn Leyds, Craig Barry, Ruhan Nel en SP Marais. Dis ’n groot voorreg om saam met manne van dié kaliber te speel.”

Leyds, die WP-kaptein, sê hulle het geweet hulle moet goed begin. “In die tweede helfte het ons ’n paar foute gemaak wat hulle toegelaat het om punte aan te teken.”

Die WP het altesaam agt drieë teenoor die vier van die Pumas gedruk. Volgende week het die Streeptruie ’n blaaskans voordat hulle die Lions aandurf.

Puntemakers:

WP – drieë: Kobus van Dyk, Sergeal Petersen (2), Ruhan Nel, SP Marais, Ernst van Rhyn, Sikhumbuzo Notshe, Herschel Jantjies; doelskoppe: SP Marais (7); strafdoele: Marais.

PUMAS – drieë: JP Lewis, Le Roux Roets, Jerome Pretorius, Christo­pher Smith; doelskoppe: Smith (4).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters