28 dae gelede
Weggejaagde Mourinho nie in sak en as
werkloos: José Mourinho (agter) en Michael Carrick lyk raadop tydens laas week se nederlaag teen Liverpool.­ Foto: GETTY IMAGES  ~ 

JOSÉ Mourinho kan sommer gou weer in die afrigterstoel van een van Europese sokker se beste klubs sit.

Manchester United het Mourinho laas week as manager afgedank nadat die Red Devils met 1-3 teen Liverpool verloor het.

Ole Gunnar Solskjær is nou Mourinho se tydelike replacement.

Die manier waarop Mourinho se verhouding met sokker se grootste en rykste sokkerklub, Manchester United, geëindig het, sou sommige mense laat glo het sy tyd as een van die beste breiers in die wêreld is waarskynlik verby.

En Mourinho kan ook nie kwalik geneem word as hy besluit hy wil eerder eers vir ’n baie lang tydperk van afrigting wegbly nie.

Die Portugees het immers ’n vet tjek van £24,3 miljoen (nagenoeg R450 miljoen) van United ontvang om die pad te vat.

Mourinho se kontrak met United sou aan die einde van die 2019/’20-seisoen tot ’n einde kom.

’n Terugkeer na Inter Milan, een van die klubs waar hy nog as ’n liefling beskou word, is miskien Mou­rinho se volgende skuif.

BBC Sport berig Inter-ondersteuners loop steeds met banners rond met Mourinho se naam daarop wanneer wedstryde gespeel word.

Druk

Die Portugees het in 2010 die Italianers gehelp om die Uefa Champions League-titel te wen.

Inter se nuwe breier, Luciano Spalletti, is reeds onder hewige druk nadat sy span nie die uitspeelrondes van die Champions League kon haal nie.

Sedert Mourinho se skuif van Milan na Real Madrid in 2011, het dinge by Inter baie verander.

Die klub spog met ’n nuwe president en uitvoerende hoof.

By United het Mourinho kwaai koppe gestamp met die grootbase, veral wat kontraktering en die werwing van nuwe spelers betref.

Ander opsies op die tafel vir die Special One is om vir die eerste keer in sy loopbaan in Duitsland te gaan afrig.

En daar wag dalk ’n groot geleentheid op Mourinho, aangesien Niko Kovac, Bayern Munich se manager, onder groot druk is.

Bayern sukkel in dié seisoen se Bundesliga, maar sal heel waarskynlik tot aan die einde van die seisoen wag voordat hy oor Kovac te lot sal beslis.

BBC Sport berig verder dié Duitse klub is ook ietwat katvoet as dit by die aanstelling van ’n manager van Mourinho se kaliber kom.

Hy hou van sy eie ding doen en sal nie sommer ’n klub se speelstyl wil volg nie. Dít is waarom Bayern dalk nie sal belangstel nie.

’n Terugkeer na Real Madrid is glo óók ’n opsie vir Mourinho.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters