8 dae gelede
Walters neem 10 paaltjies
Basheer Walters Foto: Gallo Images  ~ 

DIE plaaslike krieketheld Basheer Walters het nog ’n pluimpie in sy cap gesit toe hy OP na ’n oorwinning geboul het deur sy eerste 10 paaltjies in ’n wedstryd te neem.

Die ervare Oos-Kaapse bouler het sy 10-fer, soos dié prestasie bekendstaan, laas week in Oos-Londen in die driedaagse provinsiale reeks teen Grens behaal.

Wat Walters se 10 paaltjies nog meer besonders maak, is dat hy net 107 lopies in 29,4 boulbeurte afgestaan het om te verseker OP wen met 185 lopies.

Dit is nadat OP in sy eerste beurte 365/9 en toe 189/3 aangeteken het. So, die kolwers het ook hulle werk gedoen.

“Om 10 paaltjies te vat is ’n groot prestasie vir enige bouler. Dit verg harde werk en toewyding en daarom is ek is baie bly om dit in my loopbaan te kon behaal,” sê Walters.

Soos ’n ware sportman voel Walters sy prestasie was net moontlik as gevolg van ’n goeie spanpoging. Die 32-jarige sê die geheim in enige sport lê in hoe consistent jy is in wat jy doen.

Liefde

“Hoe meer consistent jy is, hoe beter. Ek voel ook ek is tans in ’n baie goeie plek in my loopbaan, daarom speel ek met ’n sekere freedom en dit help.”

Walters, wat bekend is vir sy liefde vir koesisters, sê daar was geen koesisters betrokke by die 10-fer nie.

“Koesisters is net vir Sondae. So, as daar ’n game op Sondag plaasvind, sal ek ’n paar eet. Maar hierdie was alles net ek,” sê hy laggend.

Ná die oorwinning is Walters en OP bo-aan die log in groep A van die reeks.

Volgens Walters het hulle ’n goeie kans om die reeks te wen.

“Veral ná hierdie oorwinning is almal vol moed. Ons het goeie spelers wat almal gretig is om goed te vertoon.”

Hy sê die span is reeds besig met voorbereidings vir hulle volgende wedstryd teen Boland op 14 November op St. George’s Park. Hy voel as hy en die res van die span aanhou goed vertoon, is enige iets moontlik.

“Ons sal graag so wil aanhou en bou op wat ons het. OP vaar nooit sleg nie. Ons moet dié keer probeer deurdruk en kyk of ons die reeks kan wen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters