2 maande gelede
Wallis loop oor Ierland
Gareth Bale is vuur en vlam vir Wallis in die Nasiesliga.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

GARETH Bale is vuurwarm in Uefa se Nasies­liga nadat hy Wallis geïnspireer het tot ’n 4-1-oorwinning oor Ierland.

Bale het ’n pragtige doel aange­teken om te verseker Ryan Giggs se eerste wedstryd in beheer van Wallies is ’n goeie een.

Bale het sy goeie peil met Real Madrid dié seisoen voortgesit met ’n sensasionele doel van buitekant die boks in die 18de minuut in Cardiff.

Dit was sy 30ste internasionale doel.

Bale het Connor Roberts ook gehelp om hul span se vierde doel aan te teken.

“Ons wou ons ondersteuners ’n goeie vertoning gee,” sê Bale.

Wallis pak Denemarke vandag. Daar word verwag Denemarke sal sy sterkste span laat speel nadat hy Woensdag in ’n friendly met 3-0 teen Slowakye vasgeval het.

Dít nadat sterre soos Christian Eriksen afwesig was weens ’n kontrakgeskil oor handelsregte.

Bale voeg by: “Die doelwit is om elke wedstryd wat ons speel, te wen.

“Ons het die formaat bestudeer en ons weet dis ’n ander manier om vir die Euro’s te kwalifiseer, so ons sal dit baie ernstig opneem.”

Aangedurf

Die huidige Wêreldbekerwenner, Frankryk, het in München met 0-0 teen Duitsland gelykop gespeel.

Die twee Wêreldbekerwenners het mekaar in die Allianz Arena aangedurf. Dit het gelyk na die perfekte wedstryd om die Nasies­liga af te skop.

Ongelukkig het daar regtig niks tussen die laaste twee wêreldkampioene gebeur nie.

Die Franse moet egter dankbaar wees vir hul doelwagter Alphonse Areola, wat ’n uitstekende debuutvertoning gehad het en ’n paar goeie doelpogings in die tweede helfte gekeer het.

Areola is gekies in die plek van die beseerde Hugo Lloris. Dis die enigste verandering wat Frank­ryk se afrigter, Didier Deschamps, gemaak het in vergelyking met die span wat in Julie die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Kroasië begin het.

Ook in liga B het die Oekraïne van agter gekom om Tsjeggië met 2-1 te klop. Oleksandr Zinchenko het die deurslaggewende doel in beseringstyd aangeteken.

In liga C het Fulham se Stefan Johansen twee doele vir Noorweë aangeteken om Ciprus met 2-0 ore aan te sit.

Bulgarye het met 2-1 in Slowenië gewen. – SuperSport.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters