3 maande gelede
Vroue-WB kan groei
GROOT PLANNE: Gianni Infantino wil vrouesokker verder laat groei. Foto: GETTY IMAGEs  ~ 

GIANNI Infantino, die president van Fifa, die sokkerbeheerliggaam, wil die Wêreldbekertoernooi vir vroue van 24 spanne na 32 spanne vergroot en die prysgeld verdubbel.

Infantino se besluit kom voor die skouspel se final vandag tussen Amerika en Nederland.

Die Italianer beskryf die toernooi, wat in Frankryk gespeel word, as een van die bestes.

Hy het ook die geleentheid gebruik om ’n nuwe plan vir 2023 bekend te stel.

Die bodproses vir die toernooi van 24 spanne wat nog aangewys moet word, sal straks hervat word om die addisionele spanne te akkommodeer.

Hy voeg by Fifa wil ook hê die vroue moet in ’n nasionale liga vir hulle land speel – wat promosie en relegasie insluit.

Hy beoog ook om die beplande belegging van $500 miljoen (meer as R7 miljard) oor vier jaar te verdubbel.

Geskiedenis

Hy voeg by Fifa het “ongekende reserwevlakke” en dit is mos nie nodig dat al daardie geld net in Switserse banke gehou moet word nie.

Intussen verwag Nederland, wat in sy eerste Wêreldbeker-eindstryd uitdraf, om verder geskiedenis te maak.

Die Orange Army, soos hulle genoem word, moet ’n enorme uitdaging in Lyon trotseer in hulle kragmeting met die verdedigende kampioen, Amerika.

Die Yanks speel ook vandag in hulle derde eindstryd agtereenvolgens.

Jill Ellis, Amerika se afrigter, het ’n groep wat Engeland met 2-1 afgestof het om na die eindstryd deur te dring.

Nederland moes op sy beurt diep delf om Swede naelskraap met 1-0 in ’n taai stryd te klop.

Ellis het uitgewys sy verwag haar spelers sal die geestelike krag hê om deur te druk.

“Ons is nog in elke wedstryd van die toernooi getoets en die final gaan geen uitsondering wees nie,” aldus Ellis.

Opgewasse

“My spelers het tot dusver gewys hulle kan onder druk koelkop en gefokus bly.

“Ek verwag dus hulle sal weer opgewasse wees teen een van die gedugste spanne – Nederland,” het Amerika se afrigter afgesluit. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters