3 maande gelede
Vrot Stormers val weer vas in Argentinië
damian willemse, stormers
Damian Willemse  ~ verskaf

DIE Stormers het gister hul vrot rekord in wegwedstryde met nóg ’n teleurstellende nederlaag voortgesit.

Robbie Fleck (afrigter) se span het met 25-30 teen die Jaguares in Argentinië verloor nadat die tuisspan met die rustyd met 13-9 voor was.

Dit was  die Kapenaars se 15de nederlaag in wedstryde weg van die huis.

Die Kapenaars kon laas jaar ook nie die mas teen die Suid-Amerikaners in die Beunos Aires op kom nie. Verlede jaar is hulle met 14-25 in Suid-Amerika ore aangesit.

Die Jaguares het drie drieë teenoor die een van die Stormers gedruk en het verdien om die kragmeting te wen.

Fleck het besluit om sy losskakel Jean Luc du Plessis in die tweede helfte met Damian Willemse te vervang sodat hy dalk die nodige vonk in die agterlyn kon verskaf.

Willemse het van heelagter geskuif met Damian de Allende wat in die plek van Dan Kriel op binnesenter opgekom het.

Die veranderinge het egter te laat gekom.

Die 20-jarige Willemse het met twee strafdoele en ’n doelskop geslaag. Die Stormers se enigste drie is deur die spoedvraat Seabelo Senatla  in die tweede helfte gedruk. Senatla het Sergeal Petersen op die vleuel vervang. Petersen moes ongelukkig die veld reeds vroeg in die eerste helfte weens ’n kniebesering verlaat. 

Die koeël was egter deur die kerk vir die Kaapse franchise toe die buitesenter JJ Engelbrecht met ’n geel kaart van die veld in die 71ste minuut gejaag is. Engelbrecht het die bal af geslaan en die Jaguares verhoed om ’n drie te druk. ‘n Strafdrie was aan die tuisspan toegeken. Dit was die finale spyker in die besoekers se doodskis. Hulle kon eenvodig net nie hiervan herstel nie.

Die Stormers kon vanjaar net 5 van hul 11 wedstryde te wen. Hulle het op die dag weer eens hopeloos te veel foute gemaak en vind hulself nou in die tweede laaste plek op die Suid-Afrikaanse afdeling van die Superrugby-log met 24 punte.

Na 10 games is die Bulls bo met 28 punte. Die Sharks het ook 28 punte maar hulle het reeds 11 games gespeel. Die Jaguares het 27 punte na 10 wedstryd. Die Lions het ook net 10 games gespeel. Hulle beklee tans die laaste plek met 22 punte.

Dinge gaan voortaan net nie makliker vir die Stormers raak nie. Al het Fleck en sy manne volgende week ’n loslootjie kom hulle die daaropvolgende week teen die negemalige kampioen, die Crusaders, op Nuweland te staan. 

puntemakers

JAGUARES - drieë: Pablo Matera, Ramiro Moyano, strafdrie; doelskoppe: Domingo Miotti (2), strafdoele: Miotti (3)

STORMERS - drie: Seabelo Senatla, doelskop: Damian Willemse, strafdoele: Jean-Luc du Plessis (4), Willemse (2)


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters