5 maande gelede
Vier blink uit
Tom BanksFoto’s: Gallo Images  ~ 

NOG ’n Superrugby-seisoen met sy snaakse formaat en skeidsregters staan einde se kant toe.

En soos dinge verloop, lyk dit of daai rooi span van Christchurch in Nieu-Seeland weer met die titel gaan wegstap.

Heelwat spelers het dié jaar nogal die tonge laat klap met hulle uithalerspel.

Sommige van hulle was nuwelinge, terwyl ander hulle beste seisoen as hardebaarde beleef het.

Van die manne verdien ook dalk om hulle land in ’n World Cup-toernooi te verteenwoordig.

Son op Sondag het so ’n paar van hulle uitgesonder vir ’n moont­like vliegtuigkaartjie na Japan.

1. Tom Banks (Brumbies)

Australië bevind hom in ’n benarde posisie. Sy beste heelagter, Israel Folau, het hom uit World Cup contention loop twiet.

Daar blyk egter ’n lig aan die einde van die tonnel vir die Wallabies te wees in die vorm van Tom Banks. Die Brumbies se nr. 15 speel dié jaar van sy beste rugby. Voor gister se kwarteindstryd was hy agste op die ranglys vir ball carries en sewende vir verdedigers klop.

Banks spog ook met die vermoë om akkuraat van ver afstande af pale toe te korrel.

2. Sevu Reece (Crusaders)

Die jong vleuel het dié jaar sy debuut gemaak, maar speel Superrugby asof hy al jare in die reeks is.

Reece het voor die ’Saders se kwarteindwedstryd met 13 drieë gespog. Hy is ook negende op die lys vir verdedigers klop en eerste vir skoon breekslae maak.

3.Lizo Gqoboka (Bulls)

Dié boorling van Tabankulu in die Oos-Kaap word al sedert sy dae by die South­ern Kings as ’n toekomstige Springbokstut beskou.

Gqoboka was ook al op ’n paar Springbok-oefenkampe. Hy kon egter nie aan die breiers genoeg bewyse lewer dat hy verdien om speelkans te kry nie.

Dié jaar het Gqoboka sy kans aangegryp en sy skrumwerk met rasse skrede verbeter. Hopelik sal dit genoeg wees om hom weer ’n call-up te laat kry.

4. Herschel Jantjies (Stormers)

Dié man is dalk die een Suid-Afrikaanse speler wat in sy posisie (skrumskakel) ver bo ander uitgetroon het.

Dit boonop nog in ’n Stormer-span wat weer eens ’n swak seisoen beleef.

Jantjies het ook verskeie toetse teen van die beste scrummies in Superrugby geslaag en die Springbokke het hom reeds stilletjies na ’n beplanningskamp vir die World Cup genooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters