26 dae gelede
Veterane sorg vir kopseer
NES ROOIWYN: Cecil Afrika raak beter met ouderdom.  ~ Gallo Images

DIE Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan het deesdae soveel diepte, daar kan drie spanne gekies word.

In ’n jaar waarin daar egter uit dié groot groep talentvolle Blitsbokke gekies moet word, is diepte nie noodwendig ’n goeie ding nie.

Daarom skerm hulle coach, Neil Powell, by elke geleentheid maar om individue in sy span vir lof uit te wys.

Die Blitsbok-kultuur is immers gebou op spanwerk en nie om die een bo die ander op ’n verhoog te plaas nie.

Dié seisoen vaar die span egter so goed dat dit nie anders kan as om sekere name na vore te bring nie.

En dis veral die veterane in die Blitsbokgroep wat tans die hardste stem dik maak om op die vliegtuig te klim vir die jaar se Spele in Tokio, Japan. Dis nou as die corona-virus nie sy way kry en dié multisport-skouspel uitgestel raak nie.

Maar die virus eers daar gelaat – Powell erken daar wag in Mei op hom en die res van die Blitsbokke se breintrust groot keuses.

Dit was Powell self wat ná die vorige Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, gesê het hy wil ’n nuwe rigting inslaan wanneer dit by die kies van sy span kom.

Dit was om met die jonger garde te bou. Die kanse dat spelers 30 jaar of ouer in Tokio gaan wees, is dadelik as baie skraal beskou.

Druk

Ervare manne soos Branco du Preez, wat in Mei 30 word, Cecil Afrika (32), Chris Dry (32) en Rosko Specman (word in April 30) kan dus as uit beskou word.

Dié veterane het egter dié seisoen gewys hulle is steeds manne op wie daar gereken kan word wanneer die druk oplaai.

Powell se reaksie hierop was: “Ons beplan om voordat ons vir die Londense en Paryse toernooi (van die Wêreldreeks) vertrek, ’n vergrote groep aan te kondig.

“Ons wil dus seker maak ons begin ons groep (stelselmatig) verklein en begin werk met die manne wat ons dink ons na die Olimpiese Spele gaan vat.

“Dit sal ’n groep van so 18 tot 20 wees – ek weet nog nie – want daar moet gesit en gesels word oor die spelers wat ons vir daai groep gaan kies. Eers ná Londen en Parys sal ons kan sê wie die groep gaan haal.

Klop

“Die deur is dus nog oop vir enige iemand. Daar is regtig baie manne wat hulle hand opgesteek het in die laaste ses toernooie.

“Selfs iemand soos Impi Visser wat (weens ’n besering) nie sy kans gekry het die afgelope twee naweke nie. Hy het goed gespeel toe hy kans gekry het in Sydney en Hamilton.

“Almal is besig om hard aan die deur te klop vir plekke en dit gaan ’n moeilike besluit wees om te besluit wie by die huis bly en wie saamgaan.”

En asof die spelers wat klaar besig is om hom selection head­aches te gee, nie genoeg is nie, wil die Springbok Cheslin Kolbe ook nog kans kry.

Powell het gesê hy wou Kolbe saamvat vir toernooie in Noord-Amerika (Los Angeles en Vancouver), maar dié speler kon toe nie vrygestel word deur sy Franse klub, Toulouse, nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters