6 maande gelede
Versigtig, Proteas ...
troefkaart: Kagiso Rabada se snelboulwerk kan die Proteas op die wenpad plaas.­Foto: gallo images  ~ 

VERLEDE somer het die Proteas op tuisbodem toetsreekse teen Indië en Australië se krieketspanne gewen.

Dié slag kom Pakistan en Sri Lanka kuier, en dit behoort baie makliker vir Suid-Afrika te wees om met hulle, eerder as verlede seisoen se besoekers, klaar te speel.

Pakistan en Sri Lanka sukkel gewoonlik om die vinnige boulwerk op Suid-Afrikaanse blaaie baas te raak waar die bal lustig wip en swaai.

Die Proteas se ondersteuners kan dus maar die sonbrandolie aansmeer en die cool box vol pak om reg te wees om Suid-Afrika se oorwinnings te vier.

Maar sal dit só maklik wees?

Nie as jy na Pakistan luister nie. Die Proteas se afrigter, Ottis Gibson, sal ook die hand gou oplig en hokaai skreeu.

Gibson is tevrede met die naatboulaanval tot sy beskikking, maar wys daarop dat Vernon Philander en Lungi Ngini weens beserings vir eers moet uitsit.

Hy is veral bekommerd oor wat kan gebeur as nóg beserings onder sy vinnige boulers opduik.

Suid-Afrika se bouldiepte sal in die somer deeglik getoets word en Pakistan se afrigter, Mickey Arthur, meen dit sal nie dieselfde ou storie wees nie.

Arthur het die Proteas voorheen afgerig en weet presies wat om te verwag.

Hy is vol vertroue dat Pakistan se kolwers die vaardighede het om die toestande, asook die kartetse van Kagiso Rabada, Dale Steyn en Duanne Olivier te hanteer.

Dit is een van die bekende sêgoed in wêreldkrieket om te bespiegel watter Pakistan sal opdaag. Hy kan óf baie goed óf baie vrot wees.

Toegewyd

Die keurderbaas, Inzamam ul-Haq, het egter sy spelers gewaarsku om toegewyd te wees.

“Elke speler moet sy verantwoordelikheid besef om die druk van toetskrieket te verwerk en sy kant te bring.

“As ’n speler dit nie doen nie, sal hy terug huis toe gestuur word,” het dié ou grote sy spelers gedreig.

Verder is die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, bekommerd daaroor of sy manne ná die T20-wedstryde van die onlangse Mzansi Superliga sielkundig reg is vir toetskrieket.

“Dit is ’n moeilike situasie, want vir toetskrieket wil jy vars en uitgerus wees. Die meeste van ons het egter lanklaas meerdaagse krieket gespeel en jy wil ook langer speeltyd vooraf inkry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters