2 maande gelede
Ver trap lê voor
kampioene: Anriëtte Schoeman en Brad Gouveris verdedig môre hul Baaise fietstoertitels.foto verskaf  ~ 

BRAD Gouveris en An­riëtte Schoeman ver­dedig môre hul titels in die jaarlikse fietstoer in Port Elizabeth.

Die roete strek oor 160 km. Die toer begin en eindig by die Laerskool Lorraine.

Die 20-jarige Gouveris het dit verlede jaar die eerste keer gewen.

Hy weet dit sal nie maklik wees om weer so te maak nie.

Gouveris sê: “Ek is opgewonde oor wat voorlê en het goed voorberei.

“Die roete pas my, want ek is meer van ’n naelryer as ’n klimmer. Dit het kort, steil opdraandes, en dit pas my rystyl.

“Daar sal sterk teenstand wees, maar ek sal op my eie rywerk fokus en aanpassings maak wanneer dit nodig is.”

Nat toestande word voorsien en dit kan sake vir die ryers bemoeilik.

Dit kan groot uitdagings aan hulle stel en ’n ekstra beproewing wees.

In nat toestande sal hulle beslis hul rystyl moet aanpas.

Wat ook al die toestande, Schoeman hoef haar dalk nie te veel daaroor te bekommer nie.

Dis omdat sy dié toer en roete heelwaarskynlik beter as enige van die ander ryers ken.

Sedert die toer in 2000 begin het, het Schoeman dit net een keer nie gewen nie.

Oefen

Ondanks dié sukses­verhaal bly die 41-jarige steeds gemotiveerd om nóg ’n titel te verower.

Schoeman sê: “Ek hou daarvan om wedrenne te wen, maar ek weet ek moet hard oefen om dit reg te kry.

“As ek nie gedink het ek het ’n wenkans nie, sou ek nie daarvoor ingeskryf het nie.”

Schoeman hou daarvan dat die vroue in dié toer saam met die elite-mans mag ry.

Daaroor verduidelik sy: “Wanneer dit net vroue is, hou ons mekaar gewoonlik vir 80 km dop en daarna ontaard die wedren in ’n naelrit.

“Saam met die mans is die sterkste vroue vroeg onder die voorstes, en een van hulle behoort die wenner te wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters