18 dae gelede
Vele uitdagings vir ou José
cristiano ronaldoFoto: GETTY IMAGES  ~ 

ASOF daar nie genoeg uit­dagings is wat José Mourinho en sy Manchester United-span in die gesig staar nie, sal hulle ’n voormalige Red Devil in Cristiano Ronaldo moet tem in dié seisoen se Champions League-veldtog.

Dis nadat United in dieselfde groep as die Serie A-kampioen, Juventus, in groep H geloot is.

Valencia en Young Boys is die ander twee spanne wat dié groep voltooi.

Ronaldo het tussen 2003 en 2009 vir United uitgedraf, en United in Februarie en Maart 2013 aan sy doelvernuf herinner.

Dit was toe hy in albei bene van Real se Champions League-wedstryde teen United sukses behaal het.

Toeskouers kan dus verwag CR7 sal weer ’n bedreiging vir United inhou.

United is voor die loting ’n 73% kans gegee om na die ronde van 16 deur te dring. Met Juve en Valencia in die groep, is dit egter nou 65%.

Juventus is die gunsteling met 95%, Valencia het ’n 30%-kans en Young Boys het maar ’n kans van 10%.

Verras

Van die vier Engelse klubs in die kom­petisie is dit laas seisoen se naaswenner, Liverpool, se kanse om die uitkloprondes te haal wat luidens die statistieke die meeste gedaal het. Dis oor hy teen gedugte Europese spanne soos Paris Saint-Germain en Napoli in groep C geloot is.

Red Star Belgrade, wat op sy tuisveld enige span kan verras, is die vierde span in dié groep.

Liverpool, wat laas in 1973/’74 teen Red Star gespeel het, het in albei bene – weg en tuis – teen dié span van Serwië vasgeval.

Voor die loting Donderdag in Monaco is Jürgen Klopp, afrigter, se Reds ’n kans van 69% gegee om die ronde van 16 te haal, maar met PSG en Napoli betrokke, het Liverpool se kanse na 54% geval. Dít terwyl PSG en Napoli onderskeidelik ’n kans van 80% en 60% het om deur te dring.

Verwagtinge

Nóg ’n Engelse span, Tottenham, sal ook bo verwagtinge moet speel om sy stempel in dié prestigeryke kompetisie af te druk.

Dis nadat Spurs in dieselfde groep as Barcelona geloot is. PSV Eindhoven en Inter Milan voltooi die groep B-kwartet.

Die Premierliga-kampioen, Manchester City, het dalk die maklikste roete om deur te dring na die laaste 16. City het ’n 91%-kans om sy plek te in die uitkloprondes te bespreek oor hy’s met spanne soos Shakhtar Donetsk, Lyon en Hoffenheim in groep F is.

Net só behoort die kampioen, Real Madrid, wat die kompetisie die laaste drie seisoene in ’n ry gewen het, ook nie veel uitdagings in groep G te hê nie. Dis omdat hy sokkerspanne soos Roma, CSKA Moscow en Viktoria Plzen pak. – Reuters

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters