2 maande gelede
Tyson oor wêreld se voorste swaargewigte
KENNER: Die oud-wêreldkampioen Mike Tyson se geld is op Anthony Joshua. Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 
TYSON FURY
ANTHONY JOSHUA
KENNER: Die oud-wêreldkampioen Mike Tyson se geld is op Anthony Joshua. Foto’s: GETTY IMAGES

ANTHONY Joshua is die beste bokser op die planeet.

Basta met Tyson Fury en Deontay Wilder.

“Joshua het eenvoudig net meer skills as hulle,” sê Mike Tyson, voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld.

Tyson het in ’n onderhoud met SecondsOut gesê Joshua is die beste van die hele spul.

“Hy is die sterker een, die groter een en hy het meer skills as Fury en Wilder.

“Ja, by my is daar geen twyfel dat hy beter as almal is nie,” sê Tyson.

Joshua verdedig sy IBF-, WBA- en WBO-titel op 22 September in die Wembley-stadion teen die Rus Alexander Povetkin.

Joshua is ná 21 gevegte steeds onoorwonne. Hy het 20 van sy teenstanders uitgeslaan.

Die enigste teenstander wat hy nie planke toe kon stuur nie, is Joseph Parker van Nieu-Seeland.

Joshua het dié geveg op 31 Maart met punte gewen.

Intussen is Joshua gewaarsku om nie ’n oorwinning oor Povetkin as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Dis veral die oud-kampioen Shannon Briggs wat meen Povetkin spel groot gevaar. Dit gaan oorlog wees, voorspel hy.

Hoewel daar al wyd berig is dat Fury en Wilder mekaar die einde van die jaar pak, moet die geveg nog bekragtig word.

By Fury is daar egter geen twyfel dat die geveg sal plaasvind nie.

Fury het op Instagram gesê: “Ek lees en hoor dat die geveg van die baan is, maar beslis nie in my boek nie.

“Ek onttrek aan geen geveg nie. Die geveg is aan in Japan.”

Die Brit het afgesluit: “Tyson Fury gaan soos ’n koning na Amerika opruk.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters