6 dae gelede
Twis in krieket
Thabang MoroeFoto’s: GALLO IMAGES  ~ 

OPGEWONDENHEID is besig om onder Suid-Afrika se krieket fans toe te neem met die Wêreldbeker-toernooi wat later­ in die maand in Engeland en Wallis begin.

Dit is ’n opwindende tyd vir die spel wêreldwyd en dit is geen verrassing dat die geesdrif in Suid-Afrika begin hoog loop nie.

Wat wel baie van die fans se geesdrif blus, is die swak verhouding tussen die beheerliggaam van die spel in die land, Krieket Suid-Afrika (KSA), en die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (SASV).

Daar is selfs sprake van hofsake en ’n spelerstaking, terwyl dié twee organisasies koppe stamp oor die KSA se voorneme om ’n nuwe eersterangse stelsel ná afloop van volgende seisoen in te stel.

Die KSA wil dit doen om sy (benarde?) finansiële posisie te verbeter. Die plan is om met die franchise-stelsel weg te doen en dit met ’n provinsiale stelsel te vervang.

Die SASV voel hy is nie behoorlik in die proses geraadpleeg nie. Hy beweer ook sy uitvoerende hoof, Tony Irish, is verbied om ’n vergadering oor die kwessie by te woon.

Tot dusver kon die KSA en die SASV nie ’n ooreenkoms bereik nie en is die verhouding tussen die twee partye uiters stram.

Hoekom skop die SASV vas?

Die SASV voel baie administrateurs se poste kan in gedrang kom onder die nuwe bedeling. Hy meen ook dit is geen uitgemaakte saak dat meer spelers gekontrakteer sal word nie.

Daar is kommer oor hoe die veranderings gedoen sal word en die president van die SASV, Omphile Ramela, meen die spelers kan minder verdien.

Hoe lyk die KSA se geldsake?

Die KSA voorsien ’n verlies van R654 miljoen oor die volgende vier jaar en wil dié skade beperk.

Die uitvoerende hoof van die KSA, Thabang Moroe, gooi wal as daar van ’n slegte finansiële posisie gepraat word.

“Ons sien daar is ’n ysberg in ons pad en ons is stadig besig om seker te maak die skip tref dit nie.

“Ons finansies is steeds sterk. Ons wil seker maak dit bly so en daarom kyk ons na ons plaaslike struk­ture,” verduidelik Moroe­.

Hoekom is die verliese so groot?

Die uitsaaimark is besig om te verander en onsekerheid bestaan oor watter nuwe kontrak die KSA met die plaaslike uitsaaier SuperSport gaan beding.

Die KSA bestee sowat R15 miljoen per jaar aan elkeen van sy ses franchises. Dit lyk nie asof die franchises selfonderhoudend sal raak soos met hulle stigting in 2005 gehoop is nie.

Verder staan die KSA ook die 14 semi-professionele spanne by en is daar die uit­gawes met die T20 Mzansi Super League.

Hoe gaan die KSA die verliese verminder?

Die KSA glo hy sal baie geld kan spaar as hy die huidige fran­chise-stelsel en die semi-professionele reekse­ vervang met ’n stelsel van 12 spanne.

Dit beteken die KSA sal sy uit­gawes op 12 spanne – en nie 20 soos nou nie – kan fokus.

Minder wedstryde, ongeveer 80 tot 90 minder, sal per seisoen gespeel word. Dit sal die koste met verblyf, vervoer en etes aansienlik verminder.

Die franchises se T20-reeks, wat tans sonder ’n borg is, gaan ook in die slag bly.

Die KSA beperk boonop sy begroting vir die MSL. Daar word nie binne die volgende vier jaar ’n wins uit dié T20-reeks verwag nie. ’n Oorsese deal met die uitsaairegte sal die KSA se koffers ’n hupstoot gee en dit is ’n moontlikheid wat ondersoek word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters