27 dae gelede
Twee nuwe breiers vir bokke
Nuwe gesig: Deon­ Davids is nou ook lid van die Bokke se breierskorps.  ~ Gallo Images

MOENIE te veel van ’n afwyking van die wedstrydplan verwag wat die Springbokke tot World Cup-glorie in Japan gelei het nie.

Dít is die boodskap wat duidelik oorgedra word wanneer na die samestelling van dié Suid-Afrikaanse rugbyspan se breierskorps gekyk word.

Rassie Erasmus, direkteur van SA Rugby, het sy wens gekry met sy jare lange vriend en verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, wat Vrydag in Gauteng amptelik as die Bokke se nuwe hoofafrigter aangestel is.

Erasmus het ná die World Cup in Japan besluit om afstand te doen van die afrigterspos, maar hy’t geen geheim daarvan gemaak nie dat hy steeds nou by die nasionale span se doen en late betrokke sal wees.

Met Nienaber in beheer het Erasmus ’n vertroueling wat die Bokke sal bestuur soos wat hy wil hê dit gedoen moet word.

Erasmus se bloudruk vir sukses is laas jaar gebou op goeie opskietverdediging en ’n pak voorspelers, met goeie plaasvervangers om die opposisie ná rustyd sag te maak.

Moet dus nie te veel tierlantyntjies van die Bokke verwag wanneer hulle later in die jaar begin speel nie – selfs al spog die groep met nuwe gesigte in die breierskorps.

Konsultant

Die enigste nuwe gesigte in die Bokke se bestuurspan is Deon Davids, voormalige afrigter van die Southern Kings, en Daan Human, skrum-afrigter van die Bulls.

Davids is as voorspeler-afrigter aangestel, terwyl Human as ’n konsultant die Bokke met hulle skrumwerk sal help. Hy sal steeds sy take as die Bulls se skrum-afrigter verrig.

Mzwandile Stick (agterlyn en vaardighede) en Felix Jones (verdediging) was almal lid van Erasmus se World Cup-breierskorps en behou hulle posisies in die span.

Jones sal sy take as hulpafrigter vanaf Europa verrig, met sy groot taak as die eerste lyn in kommunikasie tussen die hoofafrigter en Springbokke wat hulle rugby vir Europese spanne speel.

Oor sy aanstelling as hoofafrigter het Nienaber gesê: “Dis ’n massiewe eer en verantwoordelikheid, maar ek weet wat van my verwag word, veral in dié nuwe struktuur. Ek en Rassie werk al amper twee dekades saam in ’n afrigtingskapasiteit en verstaan mekaar se denkwyse, en ek sal steeds aan hom rapporteer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters