21 dae gelede
Turner reg om te kook
ster: Caleb Turner is een van die Madibaz se sokkersterre en gaan die USSA se o. 21-span verteenwoordig. FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Madibaz-sokkerster Caleb Turner is gereed om sy universiteit en provinsie trots te maak by die SA Football Association se nasionale toernooi wat môre in Mahikeng in Noordwes afskop.

Die 19-jarige bestuurstudent van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) is vir Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) se o. 21-span gekies.

Turner – van Salsoneville in Port Elizabeth – sê “dis ’n groot eer” om sy universiteit in die span te verteenwoordig.

“Dit was een van my doelwitte om vanjaar vir die USSA se o. 21-span gekies te word. Dis altyd goed om te sien dat harde werk wel vrugte afwerp,” sê die middelveldspeler.

“Dis ’n groot toernooi en daar sal baie blootstelling vir my en die span wees. Dis een van ons beste kanse om miskien deur professionele klubs erken te word.

“Namate ’n mens ouer word, neem die belangstelling af. Ek dink daar’s baie geleenthede by hierdie toernooi.”

Turner, wat graag eendag professioneel wil sokker speel, sê: “Ek wil graag uit dié wedstryde leer om iets nuuts by my spel te voeg, asook om die ervaring terug te neem na my spanmaats by die Madibaz.”

Mentors

Hy noem die steun wat hy van sy kollegas en afrigters ontvang, is een van die belangrikste redes dat hy vir die USSA-span gekies is.

“Ek dink niks hiervan sal sonder hulle moontlik gewees het nie.

“My mentors in sokker is die Madibaz-sokkerbestuurder, Mark Tommy, en die afrigters Wayne Iveson en Nick Myataza. Hulle het my nog altyd gemotiveer, op en weg van die veld.

Tommy sê Turner is ’n voorbeeld van ’n speler wat al ’n land pad met Madibaz-sokker gestap het.

“Caleb was ’n belowende speler in matriek toe ons hom as iemand met potensiaal geïdentifiseer het,” verduidelik Tommy.

“Hy was lid van die span wat in 2016 en 2017 agtereenvolgende SAB-ligatitels verower het.

Dit het daartoe gelei dat sy spel ontwikkel het. Dit het hom in staat gestel om op ’n hoër vlak mee te ding en hom erkenning te verleen deur die USSA-keurders.”

In die kampioenskapstoernooi sal die nege provinsiale kampioene en USSA-span teen mekaar meeding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters