15 dae gelede
Treu in 'n moeilike posisie
BY ’n kruispad: Paul Treu het gehoor sy klagtes oor diskriminasie is nie geldig nie.Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

PAUL Treu, hulpafrigter van die Stormers, bevind homself by ’n kruispad.

Die voormalige Blitsbok-afrigter het Donderdag gehoor sy saak van diskriminasie en wanbestuur by die Westelike Provinsie Rugbyunie het geen bewyse nie.

Dit plaas Treu in ’n baie moeilike posisie, want hy moet nou met die mense wat hy in sy verslag van 26 bladsye aangekla het, gaan saamwerk.

Treu het vroeër vanjaar aan die WPRU se vorige bestuur verduidelik hoe Robbie Fleck, hoofafrigter van die Stormers, en Paul Feeney, hulpafrigter, nie sy insette waardeer nie.

Treu se groot taak by die Stormers is om die span se verdediging op te skerp. Sy posbeskrywing by die Stormers het die afgelope seisoen so ’n bietjie verander.

Hy het Feeney met aanvallende spel tot by die vierde afbreekpunt bygestaan, maar dit is iets wat nie te kwaai vir die Stormers uitgewerk het nie.

Die Kapenaars het Superrugby in die tweede laaste plek in die Suid-Afrikaanse konferensie voltooi.

Son op Sondag het al voorheen berig dat Treu dalk ’n pos as hulpafrigter by die Southern Kings kan opneem.

Deon Davids, Kings-hoofafrigter, sit tans sonder verskeie hulpafrigters by die Baaise Pro14-span.

Maar daar is steeds ’n kans dat Davids binnekort die pos as afrigter van die Bulls gaan kry.

Dit sal dan die Kings sonder ’n hoofafrigter laat en Treu kan moontlik uiteindelik weer die rol van ’n hoofafrigter vervul.

Die laaste keer dat Treu as hoofafrigter opgetree het, was toe hy Kenia se sewesrugbyspan afgerig het.

Son op Sondag verneem dat die Stormers-assistent ook ’n draai in Japan gaan maak het. Dit is nog onseker met watter klubspanne Treu daar in kontak was.

Hy het egter nog nie as hulpafrigter van die Stormers bedank nie en dit gaan interessant wees om te sien of Treu binnekort self ’n aankondiging oor sy toekoms gaan maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters