25 dae gelede
Toufeeq ken van potspel
ROLMODEL: Toufeeq Murray maak gebruik van sy talent en kyk wat kan gebeur – hy wen ’n motor!  ~ Foto Verskaf

NOOIT in sy wildste drome het hy gedink hy sou eendag ’n kar wen nie – en dít deur pool te skiet!

“Dit wys jou net – as jy ’n talent het, moet jy daarvan gebruik maak, want jy weet nie waar jy kan opeindig nie,” sê Toufeeq Murray (11) van Colorado Park in Mitchells Plain.

Toufeeq het onlangs ’n splinternuwe BAIC D20 sport 1.5F-ryding gewen in ’n Chinese 8-ball pool-kompetisie in Johannesburg.

Dis ’n 2020-model, full-house nogal met ál die bells en whistles.

Dié kompetisie is ’n ope een wat nie net vir juniors is nie – selfs die seniors het hulle luck probeer om die kar te wen.

“Toe ek by die toernooi opdaag en sien wie die kompetisie is, was ek nogal ’n bietjie intimidated,” het Toufeeq aan Son op Sondag gesê.

“Maar ek glo in myself en ek dink dis wat enige sportman moet doen, ongeag jou sport. Back jouself, weet jy.” gesels Toufeeq met groot volwassenheid.

Dis ook dié tipe vertroue en uitkyk wat Toufeeq gehelp het om drie Suid-Afrikaanse kam­pioene te klop op pad na die titel – en kar, natuurlik!

Volgens Toufeeq se trotse pa, Shadley, is sy seun ’n baie humble laitie en die sukses gaan beslis nie na sy kop toe nie.

“Kyk, hy speel op senior level, maar dan ook op junior level, want hy sê hy wil met sy tjommies speel en dis baie verblydend, weet jy.

“Maar dis die klong wat hy is. Hy worry nie; hy wil net die game speel.

Toufeeq Murray ken sy storie wanneer dit kom by pool speel.

Shadley, wat self ’n voormalige SA champ is, moes sy drome egter opgee weens ’n tekort aan finansies.

“Hy outperform my as ’n 11-jarige,” sê Shadley skertsend. “Laas jaar Desember het Toufeeq in China gaan speel en ek moes R24 000 opdok om hom te laat gaan.

“Nou, ek weet wat dit is om gekies te word en nie geld te het om oorsee te speel nie. Ek kon nooit dít aan hom doen nie.

“Ek het ’n plan gemaak en hom die kans gebied wat ek nie kon kry weens my omstandighede nie.”

Toufeeq, ’n graad 6-leerder van die Highlands Primary, is die tweede oudste van vier kinders, van wie twee seuns is en die ander twee meisies. Sy ma, Wardah, is ook net só trots op haar seun se prestasies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters