2 maande gelede
Toetskrieket kry nodige inspuiting
NOMMERSPEL: Engeland en Australië toets die nuwigheid van syfers agterop hulle toetsklere uit. Foto: Getty IMAGES  ~ 

TOETSKRIEKET is besig om sy sturvie aansien af te skud – al skop die tradisionaliste daarteen vas.

Maar dis ’n kwessie van swem of sink vir krieket se oudste formaat, sê dr. Monica Chien, ’n Australiese kenner op die gebied van sportbemarking van die Universiteit van Queensland.

Die Engelse en Australiese spanne is heel eerste om die nuwigheid van syfers en name agter op hulle wit drag uit te toets.

Die spanne pak mekaar tans in die reeks om die As.

Die eerste toets het Donderdag in Edgbaston begin.

Hoewel dit al vir jare in eendagkrieket en die T20-formaat gebruik word, het die pure witheid van toetskrieket vir ’n volle 142 jare met die tradisie volgehou.

Henry Williams, afrigter van die Boland, sê dit is maar iets waaraan hy en vele ander krieketlui gewoond moet raak.

“Dit lyk ’n bietjie weird. Ek weet dit is al lank in gebruik in Graafskapkrieket in Engeland.

“Maar in toetse ... Ek weet nie so mooi nie. As dit gaan help om toetskrieket te boost, dan is dit seker oukei,” sê Williams aan Son op Sondag.

Dié verreikende aanpassing is een van talle veranderinge in die Internasionale Krieketraad (IKR) se reuse-veldtog om die kwynende belangstelling en bywoning van toetse hok te slaan.

Die IKR het vroeër al met dag-aand-toetse geëksperimenteer.

Die feit dat die spelers hulle eie nommers kies, is ’n goeie begin, meen Chien.

“Fans kan nou die gevoel kry hulle is deel van die storie wat hom op die veld uitspeel,” meen sy. “Dit is ’n baie insiggewende besluit vir toetskrieket.

“Jong kinders wil ’n verbintenis met hulle helde maak. Hulle sal nou truie en ander kleredrag kan bekom met die nommer en name van hulle helde daarop. Jy kan maar net die effek in sokker sien.

Instroom

“Toetslande moet goeie bemarking gebruik en munt daaruit probeer slaan.

“Die gevolg is dat meer geld na toetskrieket kan instroom.”

Suid-Afrika en Indië sal ook volgende maand in ’n toetsreeks in Indië slaags wees.

Daar word oor die algemeen aanvaar die Proteas en Indië se spelers sal die syfers wat hulle reeds in die eendag- en T20-formaat dra, in dié toetsreeks gebruik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters