13 dae gelede
Tinkler-tyd ook min?
Eric Tinkler  ~ gallo images

ERIC Tinkler se toekoms by Chippa United is só onseker en onvoorspelbaar soos die dood self.

Met ’n bynaam soos die Chilli Boys, brand elke breier wat die leisels by dié klub oorneem méér as net hul mond.

Met Chippa se geskiedenis van afrigters links en regs hire en fire, word daar omtrent bespiegel oor hoe lank Tinkler, afrigter nr. 13 (sedert 2012), by die span van die Baai sal uithou.

Boonop kan Tinkler se sterk persoonlikheid en no nonsense-benadering hom ook vroeër, eerders as later, mismoedig genoeg maak sodat hy ook die ship sal jump.

Tinkler, wat die Telkombeker en MTN8 met onderskeidelik Cape Town City en SuperSport United verower het, het sy termyn as nuwe Chippa-breier egter met ’n nederlaag afgeskop. Dít was teen sy voormalige SuperSport-span.

Tinkler hou egter vol hy weet wat hy doen. Hy reken hy’t die regte besluit geneem deur hom by Chippa aan te sluit.

“Ek het geen mandaat nie, maar ek weet die klub wil sukses hê,” het die voormalige Bafana Bafana-speler gesê. “Ek wil dié seisoen verseker dat ons onder die topagt-spanne eindig.”

Chippa se voorsitter, Siviwe “Chippa” Mpengesi, het telkens gewys dat kontrakte en beloftes niks gewig dra en by hom en sy klub niks beteken nie. Mpengesi het niks gedink om Teboho Moloi, wat in Desember 2017 aangestel is, ná net drie maande te vervang nie.

Filosofie

Dit was nadat Mpengesi op nasionale TV gesê het dat Moloi beslis die een afrigter is wat sommer vir jare by sy klub sal wees... Regtig?

Wat Mpengesi ook nie besef nie, is dat sy span nooit bestendigheid sal bereik nie, want elke coach wat inkom, wil met sy eie filosofie en bestuurspan die sweep klap.

Waar los dit die spelers? Dit kan beslis nie maklik vir hulle wees nie, maar dis die aard van Mpengesi, wat mos altyd van beter weet.

Die groot vraag is nou egter: Hoe lank sal Tinkler hou?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters