24 dae gelede
‘Swakker’ span is dalk ’n seën
in sy visier: Faf du Plessis wil die beker huis toe bring.Foto: Gallo Images  ~ 

SUID-AFRIKA het al sterker krieketspanne as vanjaar se oes na die Wêreldbeker-toernooi gestuur, maar dit is dalk ’n bedekte seën.

Dié slag is die verwagtinge van die ondersteuners nie so groot nie en is die Proteas nie die gunsteling om die beker in Engeland en Wallis te wen nie.

Faf du Plessis meen dié situasie sal in hulle guns tel wanneer die eerste bal van die toernooi op 30 Mei op The Oval in Londen tussen die Proteas en Engeland geboul word.

Die Proteas se kaptein sê sonder daardie bykomende druk sal sy spelers vryer voel om hulle op die veld uit te leef en die aanvallende soort krieket te speel waarmee hulle glo die beker gewen kan word.

Dié sielkundige aspek kan een van die Proteas se grootste sterk punte in die toernooi wees.

Kom ons kyk na die Proteas se sterk en swak punte.

STERK PUNTE

Chokers-etiket

Die sielkundige las van die vorige toernooie se mislukkings kan dié slag in ’n sterk punt omgeswaai word.

In die verlede het die Proteas uitgevind om die beste span op papier te wees, beteken niks as jy nie sorg die groot oomblikke in die uitspeelwedstryde verloop in jou guns nie.

Die Proteas is dié keer ervare genoeg om tesame met die nuwe aanvallende benadering en die nuwe bloed, wat sonder sielkundige letsels is, die sleutel-oomblikke te benut.

Voorbereiding

As die Proteas se sending misluk, sal die vingers nie na hulle voorbereiding gewys kan word nie. Sedert Ottis Gibson in 2017 as die hoofafrigter aangestel is, was sy grootste mikpunt, noem dit eerder ’n opdrag, om seker te maak Suid-Afrika wen sy eerste Wêreldbeker.

Daar is deeglik voorberei om ’n nuwe speelstyl te vestig en ’n intensiewe siftingsproses is gevolg om uiteindelik by die groep van 15 spelers uit te kom.

Boulwerk

In Engelse speeltoestande wen boulers meestal eendaagse toernooie vir hulle spanne. Dit sal een van Suid-Afrika se sterk punte wees.

Die Proteas het boulers wat in enige stadium onspeelbare aflewerings kan boul wat die paaltjie van die wêreld se beste kolwers kan eis.

’n Span moet baie goed kolf om ’n wentelling teen ’n aanval met Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Dale Steyn en Imran Tahir in sy geledere aan te teken.

SWAK PUNTE

Kolfwerk

SA se kolflys lyk nie na dié van ’n wêreldkampioen nie. Daar is kliphard gewerk om met die nuwe aanvallende benadering die konserwatiewe kolfpogings van die verlede te vervang, maar daar word nog te veel op net ’n paar spelers staatgemaak om vir ’n wentelling te sorg.

Wanneer die wedstryde begin, moet Gibson en kie raakvat met die kolfkombinasies en besluit of die kolwers op reputasie of spelpeil gekies moet word.

Al het die Proteas kolwers wat wedstryde kan wen, is daar ’n gebrek aan ’n groot slaner in die middel- en laer middelorde wat van die eerste bal af die grens kan opsoek. Dit kan die Proteas op kritieke tye kniehalter.

Beserings

Suid-Afrika sit nog met spelers wat beseer is of die laaste tyd weens beserings min gespeel het – glad nie ’n goeie situasie so kort voor die toernooi nie. Dit lyk veral sleg wat die naatboulers betref.

Ngidi en Anrich Nortjé het weens beserings lanklaas gespeel. Steyn se skouer lol weer en Rabada dra ’n groot werklas in die Indiese Premierliga.

Sonder ’n fiks boulaanval gaan die Proteas nie die mas opkom nie. Dit bly ook ’n waagstuk om die toernooi sonder ’n tweede spesialis-paaltjiewagter aan te durf.

Veldwerk

Wanneer die Proteas boul, wemel dit in die veld van spelers met ou skete wat nie kan rond duik agter balle aan nie en nie in staat is om die paaltjiewagter te haal met ’n ingooi van die grens af nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters